CALITZDORP NUUS - Calitzdorp trek die naweek hul feesskoene aan vir die agste jaarlikse Vetplantfees wat van 19 tot 21 September plaasvind.
Die Calitzdorp-vetplantevereniging is die organiseerders van die gewilde fees. Besoekers kan uitsien na duisende vetplante van uiteenlopende spesies wat te koop sal wees, asook unieke handgemaakte potte deur plaaslike pottebakkers.
Die feesprogram sluit veldstappies, werksessies, kennerspraatjies, boekverkope en uitstaande kunswerke in. Een van die hoogtepunte is die terugkeer van die uitstalling van botaniese kuns.
'n Skildery deur Gerhard Marx, is spesiaal vir die 2025-fees geskep en is een van vele wat vertoon gaan word.
Volgens Marx is die fokus vanjaar op die gasteria.
Ebenharts Restaurant
Loer in by Ebenharts Restaurant vir smullekker kos, drankies wat die dors uitrek soos 'n kaktus in die woestyn en 'n sokkie tot jou skoene rook.
Verrigtinge begin om 08:00 tot 20:00 en die sokkie om 18:00.
Vetplantwerksessie
'n Spesiale werksessie sal aangebied word om deelnemers te leer hoe om vetplante uit saad of steggies te vermeerder. Die sessie word aangebied deur Yvonne Hemenway, een van die stigterslede van die Vetplantfees.
Hierdie praktiese werksessie is ideaal vir beginners sowel as meer ervare tuiniers. Dit vind by Geyserstraat 10 plaas. Kaartjies is vooraf beskikbaar.
Praktiese werksessie oor houertuinmaak met vetplante
'n Toegewyde werksessie oor hoe om die beste resultate met houertuinmaak en vetplante te behaal, word tydens die Vetplantfees deur Alison James aangebied.
Besoekers kan ook nuwe vaardighede aanleer en unieke ervarings geniet wanneer Charl Pretorius van Tuinateljee 'n praktiese werksessie aanbied oor die skep van lewende dekor met vetplante, waar deelnemers 'n muurhangstuk saamstel om huis toe te neem.
Die fees sluit ook die bekendstelling van die boek Lithops in Habitat and Cultivation deur Roy A. Earle en Janice E. Round in. Earle sal 'n gratis praatjie oor lithops aanbied, terwyl illustrasies deur Janet Snyman, saam met ander kunstenaars se werke, uitgestal en verkoop word.
Verder neem CapeNature-gidse groepe op 'n 90-minute staptoer na Jakkalskop, waar talle vetplantspesies in blom bewonder kan word 'n gewilde hoogtepunt van die feesprogram.
Vir die volledige program en besprekings, besoek www.vetplant.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’