OUDTSHOORN NUUS - Met die droogtetoestande en gepaardgaande hoë temperature is die gevaar dat brande kan uitbreek en vinnig versprei uiters groot.
Die Oudtshoorn Plaaslike Owerheid het verlede week ’n dringende beroep op inwoners gedoen om geen oop vure te maak nie.
Dit sluit vure vir die verbranding van tuinafval in erwe in.
In die kennisgewing wys hy inwoners op die gevaar van brande wat vinnig kan versprei, veral teen die agtergrond van die ernstige brande wat onlangs in die Tuinroete gewoed het.
In een van die brande is talle eiendomme in Mosselbaai beskadig.
In dieselfde tyd het brande ook in die Swartberge buite Oudtshoorn uitgebreek. Daar was ook brande naby George en in die Langkloof.
“Ons is steeds in brandseisoen, en nooddienste en hulpbronne is beperk. ’n Enkele vonk kan groot skade veroorsaak en lewens in gevaar stel,” lui ’n deel van die verklaring.
Voorverlede week is die brandweer inderhaas ontplooi nadat die beheerkamer ’n oproep ontvang het van ’n brand wat vermoedelik langs die gholfbaan by die informele nedersetting, Hopeville, uitgebreek het.
Dit het egter aan die lig gekom dat dit twee mans in die veld by die begraafplaas was wat ’n vuur aangesteek het.
Dit blyk dat hulle gereeld inheemse bossies in die veld oes en dit dan op ’n oop stukkie grond aan die brand steek, waarna die as bymekaargemaak word om snuif te vervaardig.
Lede van die brandweer het die vuur geblus en wetstoepassers het die mans gewaarsku dat hulle boetes opgelê kan word.
Op daardie stadium het die wind juis begin waai, en die mans het geen water by hulle gehad om die vuur of oorblywende smeulende materiaal te blus nie.
Die munisipaliteit doen ’n dringende beroep op inwoners om enige brand of rook onmiddellik aan te meld deur die beheerkamer by 044 203 7800 te skakel.
Geen tuinvullis mag ook in erwe verbrand word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’