OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekende in rugbygeledere, Kenneth Booysen, of ‘Mr. White’ soos hy alombekend gestaan het, is verlede Donderdag oorlede.
Hy word komende Saterdag, 1 Februarie, begrawe.
Bridgton-rugbyklub, het by monde van hul sekretaris, Phillip Goliath, gesê dat Booysen reeds in 2013 by die klub as keurder betrokke geraak het en was sedertdien 'n aktiewe lid. Hy was ook die spanbestuurder tot sy heengaan. Hy was egter reeds sedert 1991 'n stoere Bridgton-ondersteuner.
Goliath het Booysen as 'n "kleurvolle karakter" beskryf.
"Hy het blywende voetspore nagelaat. Hy sal veral onthou word vir sy kwinkslae en grapperige manier waarop hy ernstige sake aangespreek het. Sy vrolike, opgewekte geaardheid het hom ‘n gunsteling by oud en jonk gemaak. Een van sy grootste nalatenskappe, is dat hy nooit by rugby-politiek (onenigheid) betrokke geraak het nie. Hy het Bridgton-rugbyklub getrou, nougeset en met passie gedien."
Goliath sê Bridgton-rugbyklub het met die heengaan van ‘Mr White’ nie net ‘n kwaliteit ampsdraer verloor nie, maar ook ‘n vaderfiguur, vriend en vertroueling.
"Sag rus, groot reus. Jou stem het stil geword, maar ons sal jou woorde altyd onthou."
Begrafnisreëlings
Die teraardebestelling vind Saterdag 1 Februarie plaas. Dit word voorafgegaan deur 'n diens om 09:00 by die huis, Leeuweg 270, Bridgton. Die diens vind 10:00 by die Weyers Memorial Congregational Church plaas. Die diens by die begraafplaas vind om 11:00 plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’