OUDTSHOORN NUUS - Die Bikers Heart Riders-motorfietsklub, wat die gewilde De Grootvoël Rally in Oudtshoorn reël, het verlede Donderdag R40 000 aan twee organisasies geskenk.
Alex van der Walt, president van Biker Heart Riders, het gesê hulle het vanjaar besluit om R40 000 van die geld wat met die motorfietssaamtrek ingesamel is, aan Eljada-nasorgsentrum en die Cansa Irma Bruschi-huis in Gorge te skenk. Elke organisasie het R20 000 ontvang.
"As deel van ons sosiale gemeenskaps-verantwoordelikheid het ons vanjaar besluit om dié twee organisasies te ondersteun en sodoende 'n deeltjie te doen om ander mense se lewens beter te maak," het Van der Walt gesê.
Eljada-nasorgsentrum is die tuiste van bykans 100 volwassenes met verstandelike gestremdhede en is tot 'n groot mate aangewese op befondsing vanuit die gemeenskap. Met die ontvangs van die skenking het Ankia Smith van Eljada gesê sy dink nie die motorfietsklub besef watter groot verskil hul skenking maak nie. Tydens die oorhandiging het Van der Walt ook onderneem om bykans 400 sleutelhouers wat deur die inwoners van Eljada gemaak is, aan motorfietsklubs en -ryers ten bate van Eljada te verkoop.
Die Irma Bruschi-huis is in George geleë en verskaf verblyf aan kankerpasiënte wat van ander dorpe vir behandeling George toe gaan en daar moet oornag. Talle van die pasiënte kom van Oudtshoorn. Japie Coetzee, wat self kanker oorkom het, is 'n gereelde ondersteuner van die Irma Bruschi-huis en het die skenking namens hulle ontvang.
"As mense George toe gaan vir bestraling, is dit deel van 'n moeilike pad en Irma Bruschi-huis is hulle heenkome en hul ondersteuning. Ek is reeds meer as 20 jaar by die huis betrokke en weet wat die personeel vir mense wat teen kanker veg, beteken. Ek het die afgelope jaar ook besef dat bikers mense met goeie harte is, soos wat vandag weer bewys is."
Van der Walt het gesê hulle oogmerk is om nie net iets te skenk en dan aan te beweeg nie. "Ons wil 'n pad met die organisasies stap waarby ons betrokke is, en hulle deel maak van ons projekte, want ons klub is in Oudtshoorn en ons verantwoordelikheid is teenoor ons mense van die dorp."
Hy het die klub se dank teenoor die munisipaliteit in besonder betuig en gesê sonder hulle ondersteuning sou die jaarlikse motorfietssaamtrek nie kon plaasvind nie.
Alex is deur sy vrou Junita, en die bestuurslede van die motorfietsklub vergesel. Hy het ook genoem dat vanjaar se saamtrek verlede jaar s'n heeltemal gaan oorskry en dat hulle beplan om dit oor 'n hele week te laat loop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’