OUDTSHOORN NUUS - 'n Klag van moord teen 'n man van Calitzdorp, wat ook teregstaan op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is in die Oudtshoorn-streekhof deur die staat teruggetrek.
Jakob Wagenaar is van die moord op Fanie Plaatjies aangekla en ook van aanranding met die opset om ernstig te beseer op 'n veertienjarige seun.
Die voorvalle het op 17 Mei 2021 op die plaas St Helena in die distrik van Calitzdorp plaasgevind. Die aanklag van moord is Maandag onverwags deur die staat teruggetrek as gevolg van te min bewyse.
Wagenaar en die oorledene was die betrokke dag in 'n bakleiery betrokke waartydens die beskuldigde ook met 'n mes gesteek is.
Wagenaar pleit onskuldig op die aanklag dat hy die minderjarige seun met 'n mes gesteek, geskop en op sy kop getrap het.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'