MOSSELBAAI NUUS - Van 50 liedjie-aflaaie tot 4,2 miljoen afspele op YouTube Music en 2,5 miljoen kyke op YouTube - ’n plaaslike musikant bewys dat dit nooit ’n opsie is om na die negatiewe stemme te luister nie, selfs wanneer tye moeilik raak.
Abreyam Prins, nou 27 jaar oud en kreatief bekend as Da V.G, is in Oudtshoorn gebore en getoë, woon tans in George en werk by die Youth Café in Groot-Brakrivier. Hy het reeds in graad twee, op agtjarige ouderdom, begin om liedjies te skryf.
“Ek was nog altyd lief vir stories vertel. My pa het vir my as kind hierdie mal stories vertel wat hy self uitgedink het, en ek was mal daaroor, maar ek kon dit nooit weer so goed vertel soos hy nie,” sê Prins.
“Toe ek in graad 2 was, het ek ‘When I’m Gone’ van Eminem gehoor en hoe hy stories deur musiek vertel. Dit het my gefassineer. Op daardie ouderdom het ek gedink net mense oorsee - die Michael Jacksons, die Eminems en die mense wat jy op TV sien - kan musiek maak, en dat dit net in Engels gedoen kan word. Toe ek in graad ses was, het ek vir die eerste keer ’n Afrikaanse liedjie gehoor. Dit was ’n liedjie van Early B, en toe besef ek dit is iets wat ek ook kan doen.”
In graad 10 het hy en sy vriende liedjies op hul selfone opgeneem - met een foon wat die instrumentele maat gespeel het en die ander een wat die stemme opgeneem het.
Dit was ook daardie jaar dat hy R20 betaal het aan ’n man met ’n ateljee in sy agterplaas om sy eerste liedjie met ateljee-oorfone op te neem.
Jon William Evertse, die musiekvervaardiger van “Ek Like Jou”, saam met Abreyam Prins (agter die mikrofoon). Foto: Chelsea Pieterse
Hierdie liedjies is daarna op Datafile Music, ’n webwerf wat destyds gewild was onder ondergrondse en opkomende plaaslike kunstenaars in Suid-Afrika, gepubliseer.
Hy sê hy het aanvanklik in Engels geskryf en gesing en sowat 50 aflaaie op dié platform gekry. Maar in 2018/2019 het hy begin om sy Afrikaanse musiek op te laai, waarna die aflaaie tot ongeveer 1 000 opgeskiet het.
Van daar af het Prins begin om sy netwerk in die Afrikaanse musiekbedryf uit te brei deur netwerking, samewerkings en die bywoon van bedryfsgeleenthede.
Die jaar 2023 was ’n groot mylpaal in sy loopbaan. Hy het nie net op Carbars, ’n gewilde sosialemediaplatform waar Afrikaanse kunstenaars hul vryslag-rapvernuf ten toon stel, verskyn nie, maar is ook as Algehele Kunstenaar van die Jaar by die Public Health Entertainment-toekennings in Paarl aangewys.
Chuemia Prins, beter bekend as M.I.A en Da V.G. Foto: Verskaf
Kort daarna het hy as vrywilliger by die Youth Café aangesluit - ’n organisasie wat daarop fokus om jongmense in die Mosselbaai-omgewing met vaardighede toe te rus en op te lei. Die sentrum beskik onder meer oor ’n koffiewinkel en ’n musiekateljee.
In 2024 het hy permanent by die Youth Café begin werk. Toe sy jonger suster, Chuemia Prins, beter bekend as M.I.A, hom gedurende die skoolvakansie in 2025 besoek, het hulle besluit om saam die liedjie “Ek Like Jou” op te neem. Die liedjie is vervaardig deur die Groot-Brakrivierse vervaardiger Jon William Evertse (Boeta Luv), met vokale produksie deur Rude Boi en Faa Beats.
Sedertdien is “Ek Like Jou” reeds 4,2 miljoen afgespeel op YouTube Music, met 2,5 miljoen kyke op die oudiovideo en nog 1,5 miljoen kyke op die amptelike musiekvideo.
“Toe ons die liedjie op YouTube opgelaai het, het ek geen verwagtinge gehad nie, maar dit het ongelooflik goed gevaar. Dit was selfs vir ’n tyd lank onder die topvyf-trefferliedjies op YouTube.
“Ek het aanhoudend die kyksyfers dopgehou. Ek kon nie slaap nie, want ek het heeltyd gewonder: ‘Hoeveel kyke het dit nou? Gaan dit nog aan?’ Dit voel vir my asof dit is waarvoor ek die afgelope tien jaar gewerk het. My ander liedjies doen ook baie goed.”
Prins sê hy glo nie “Ek Like Jou” sou ontstaan het as hy nie by die Youth Café as vrywilliger betrokke geraak het en mense soos Evertse en die res van die span ontmoet het nie.
Abreyam Prins (Da V.G) en Jon William Evertse (Boeta Luv) in die musiekateljee by die Youth Café in Groot-Brakrivier. Foto: Chelsea Pieterse
Vandag ken Early B nie net sy naam nie, maar ook sy musiek. Die gewilde kunstenaar het hom vanjaar selfs tydens een van sy optredes by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in die openbaar erken.
Op die vraag watter raad hy aan opkomende musikante en ander kreatiewe mense het, antwoord Prins: “Moenie opgee nie. Dit is jou droom en jou visie. Ander mense sien dalk nie wat jy sien nie en sal probeer om jou daarvan af te praat, maar moenie moed opgee nie. Ek sal eerder misluk met die wete dat ek alles gegee het as om my lewe lank te wonder wat kon gewees het. Dinge kan baie moeilik raak, maar jy moet aanhou glo, aanhou werk en aanhou vorentoe beweeg”.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’