OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse departement van mobiliteit het Dinsdag 22 September hul dienste nader aan plaaslike vervoeroperateurs en pendelaars gebring tydens hul derde besoek aan Oudtshoorn met mobiele eenheid vir openbare vervoeroperateurs ook bekend as ‘Operator Helpdesk on Wheels’.
Die mobiele eenheid maak deel uit van die departement se uitreikprogram wat daarop gemik is om toegang tot regeringsdienste, veral vir gemeenskappe in landelike gebiede, te verbeter.
Dinsdag se besoek het verskeie gesondheidsdienste aan taxibestuurders gebied.
Bernie MacMahon, die direkteur van die Wes-Kaapse departement mobiliteit, sê dat die diens deel vorm van die departement se breër missie om nakoming van regulasies te bevorder, druk op distrikskantore te verminder en dienslewering binne die vervoersektor te verbeter.
“Die mobiele eenheid bied ’n wye reeks dienste aan vervoeroperateurs in die personeelvervoer-, leerdervervoer-, e-hailing-, kleinbus- en minibustaxibedryf. Deur die mobiele diens kan operateurs onder meer hulp ontvang met die hernuwing van bedryfslisensies en permitte, asook voertuigregistrasie en die nodige dokumentasie. Die diens bied ook inligting en advies aan operateurs en sluit padveiligheidsopvoeding en bewusmakingsprogramme in.”
Volgens MacHahom is dit belangrik vir die departement om taxibestuurders te ondersteun. “Die inisiatief bied aan vervoeroperateurs en lede van die publiek die geleentheid om direk met beamptes van die departement van mobiliteit te skakel en ondersteuning met verskeie vervoerverwante aangeleenthede te ontvang.”
Bestuurders word aangemoedig om kursusse te doen om hulself te bemagtig. Dienste wat beskikbaar is vir taxibestuurders sluit in toegang tot regulerende dienste, hulp met aansoeke, klagtes en navrae, asook inligting oor die gebruik van die departement se aanlynportaal.
Geregistreerde bestuurders het almal ’n kaart ontvang wat op die departement se databasis verskyn.
Die mobiele hulpkantoor sal volgens ’n rotasieskedule verskillende dorpe en distrikte regoor die Wes-Kaap besoek. Die program word in samewerking met plaaslike munisipaliteite, raadslede en vervoerorganisasies aangebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’