OUDTSHOORN NUUS - "Ek het nog nie eens gedink daaraan dat ek gekroon is as mooiste vrou nie, ek is net so bly dat ek uiteindelik 'n stem en 'n platform het waar mense my kan hoor!" So vertel Oudtshoorn se eie Mia le Roux wat die afgelope naweek as Mej. Suid-Afrika gekroon is.
Skoonheidskompetisies is ook vir haar niks vreemd nie.
In 2015 het sy aan Mej. Doof Suid-Afrika deelgeneem waar sy onder die top-5 geëindig het. In 2014 was sy die eerste Oudtshoorniet wat Mej. Tuinroete/Miss Garden Route gewen het en in 2013 is sy as Mej. Struisie gekroon.
Sy erken dat haar pad tot sukses nie so maklik was nie, en dat daar steeds 'n paar struikelblokke voor haar lê, maar met dié oorwinning het sy 'n nuutgevonde passie ontwikkel om voort te gaan in haar strewe om persone met ander vermoëns te bemagtig.
"Ek wil almal wat op een of ander wyse uitgesluit voel wys en leer dat dit wat hulle vóél hulle terughou, hulle nie definieer nie. Of jy neurodiverse is, of arm, of doof is - niks hiervan hoef enigiemand te keer om hul drome te bereik nie. Die pad is soms moeiliker, maar jy kan."
Sy is doof gebore en te danke aan 'n kogleêre inplanting kan sy deels hoor, maar mense moet steeds vir haar kyk wanneer hulle met haar praat.
Haar ma, Liesel le Roux, en pa Schalk, voormalige eienaars van Die Hoorn, het haar van 'n jong ouderdom af gehelp om haar spraak te oefen.
As leerder op skool was van die grootste uitdagings om by te hou in klasse wanneer onderwysers vakke verduidelik omdat nie almal daaraan gewoond was om na haar te kyk wanneer hulle met haar praat nie. Met deursettingsvermoë en baie ondersteuning van haar ouers het haar gestremdheid haar egter nooit ondergekry nie, en het sy altyd gestreef na meer.
Die moeilikste deel van die Mej. Suid-Afrika-reis, volgens haar, was die toeganklikheid tot inligting.
"Meeste van die inligting is deurgegee op video's sonder onderskrifte en stemboodskappe, maar die organiseerders het ongelooflik baie moeite gedoen toe hulle agterkom ek sukkel. Hulle het die onderskrifte bygesit en altyd seker gemaak ek het toegang tot die regte inligting."
Haar groot dryf om haar droom te bewaarheid was om ander te bewys dat sy meer is as net haar gestremdheid.
"Ek weet hoe dit voel om te gaan vir 'n werksonderhoud en mense te sien twyfel of ek die werk sal kan doen net omdat ek doof is. Ek wil hierdeur vir almal wys dat 'n gestremdheid nie iemand se vermoë om iets te kan doen hoef te beïnvloed nie."
Mia sê ook dat die waardes wat sy in Oudtshoorn geleer het ongelooflik baie gehelp het.
"Ek het regte waardes in Oudtshoorn geleer. Daar is 'n sense of community en ondersteuning. Oudtshoorniete is daar vir mekaar. Ons het ook respek vir mekaar en ek het als toegepas in my reis."
Hoewel Mia nog nie amptelik 'n datum bekendgemaak het nie, het sy gesê dat sy definitief 'n besoek aan haar tuisdorp beplan.
"Ek wil graag tyd saam met my ouers spandeer, en ek wil ook by van ons dorp se projekte betrokke raak."
Haar volgende uitdaging is Mej. Heelal wat in November in Meksiko plaasvind.
"Die mense in beheer van Mej. Suid-Afrika is ongelooflik ondersteunend in die proses en werk baie hard om die hekkies wat ons moet oorkom makliker te maak. Hulle maak werk daarvan om my gehoorgestremdheid in hierdie kompetisie ook te akkommodeer."
Sy het ook elke Oudtshoorniet bedank wat bankvas agter haar gestaan het en in haar geglo het.
Schalk sê sy dogter se deelname was vir hom aanvanklik nie so groot nie.
"Hoe minder die deelnemers geword het, hoe meer het ek die realiteit besef. Toe sy op die verhoog staan met al die geraas en ligte het ek gedink dat die top-3 fantasties sou wees, en toe wen sy! Ek is trots op hoe sy haarself gehandhaaf het en die harde werk wat sy hierin gesit het om haar droom te bereik."
Liesel sê die geleentheid was vir hulle as ouers baie emosioneel.
"Ons is baie trots. Ons het baie gehuil en was nogal onkant gevang met die skielik "spot light" op ons, maar ons gun dit vir haar. Sy het haarself bewys waar toe sy in staat is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’