Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Mia le Roux, nuutverkose Mej. Suid-Afrika en Oudtshoorniet, kom die naweek Oudtshoorn toe.
Die aankondiging is vanoggend deur die Mej. Suid-Afrika organisasie gemaak. Luidens die verklaring sal haar besoek twee straatparades insluit, 'n spesiale ete by die Kango-grotte, 'n besoek aan 'n volstruisplaas, middagtee met verteenwoordigers van Oudtshoorn-skole asook dié in landelike gebiede en ander dorpe soos De Rust, Dysselsdorp en Calitzdorp.
Johan Allers, Oudtshoorn-burgemeester, het gesê die Oudtshoorn-munisipaliteit, sowel as die inwoners van die Groter Oudtshoorn-area, waardeer dit dat Mej. Suid-Afrika haar tuisdorp te besoek.
"Sy is 'n bron van trots vir ons gemeenskap en 'n bron van inspirasie aan ons plaaslike jeug. Hierdie besoek sal nie net die band tussen haar en die dorp versterk nie, maar bewys waartoe Oudtshoorn in staat is. Ek is geweldig trots op Mia se prestasie - sy het werklik die anders bekwame gemeenskap regoor die wêreld bemagtig en geïnspireer. Haar stem vir inklusiwiteit en uitdagende sosiale hindernisse is werklik bewonderenswaardig. Ons ondersteun haar in al haar pogings. Ons, die gemeenskap van Oudtshoorn, salueer jou Mia.”
Mia sê sy tel die tyd af tot haar tuiskoms: “Ek is so opgewonde om hierdie ongelooflike oorwinning saam met Oudtshoorn te vier, want hierdie oorwinning is net soveel hulle s’n as myne. Ek hoop dit sal my tuisdorp inspireer om altyd voort te gaan in die gees van gee en sorg vir mekaar.”
Mia se ma Liesel, wat vir meer as 20 jaar saam met haar man Die Hoorn besit het en ook die eienaars van Postnet Oudtshoorn is, is ewe verheug.
“Ek en my man, Schalk, asook ons seun, Schalk, wat ook in Oudtshoorn woon, is opgewonde en dankbaar dat ons vir Mia die naweek sal kan sien. Ons mis haar baie, want Johannesburg is ver! Ek weet die Oudtshoorniete sien sedert haar kroning daarna uit dat Mia die dorp besoek. Ons is dankbaar dat die Mej. Suid-Afrika Organisasie haar vir ’n naweek na haar mense en die pragtige Klein-Karoo teruggestuur het. Daar is groot opgewondenheid!”
Die tuiskoms-roete is soos volg:
Vrydag 20 September
- Die eerste straatparade is om 11:00. Die roete is as volg: Langenhovenweg, Voortrekkerweg, Springbokweg, Duiflaan, Zebraweg, Arnold de Jagerrylaan, 14 de Laan, Dassieweg, Springbokweg, Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat met die Queen’s Hotel as eindbestemming.
- Om 14:00 sal sy hoërskoolverteenwoordigers ontmoet vir 'n middagtee by die Queen's Hotel. Dit sal gevolg word deur 'n stap na die CP Nel-museum.
Daar sal 'n spesiale aandete die aand by die Kango-grotte wees wat om 18:00 begin waar sy deur burgemeester Johan Allers verwelkom sal word. Daar sal ook optredes van die Infanterieskool se koor, en deur Mia se alma mater, Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor wees.
Kaartjies kos R200 en is beskikbaar by die Oudtshoorn-munisipaliteit. Alle opbrengste gaan vir Mia se stigting.
Saterdag 21 September
- Sy ontmoet Saterdagoggend lede van die Nomads-gholfinstansie by Eljada Nasorgsentrum wat 'n skenking aan haar Mej. Suid-Afrika-veldtog gaan maak. Van 09:00 tot 11:00 gaan sy 'n tweede rit deur die dorp doen wat eindig by die De Jager-sportkompleks waar daar 'n fotogeleentheid tot 13:00 sal wees. Die roete sluit Baron van Reedestraat, Kerkstraat, Hoogstraat en Voortrekkerweg in.
- Sy gaan dan ’n volstruisplaas besoek.
Laai die Mej. Suid-Afrika-toepassing gratis af by die Apple App Store of Google Play-winkel.
Mej. Suid-Afrika word aangebied deur Weil Entertainment in samewerking met Sun International. S3 is die amptelike uitsaaivennoot.
Gaan na:
- https://www.misssa.co.zaFacebook: https://www.facebook.com/MissSouthAfricaOfficial
- Twitter: @Official_MissSA
- Instagram: @official_misssaYouTube: https://www.youtube.com/c/MissSouthAfricaOfficial
- Laai die Mej. Suid-Afrika-toepassing af by die Apple App Store of Google Play-winkel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’