OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn was die afgelope naweek in rep en roer met die tuiskoms van Mia le Roux - Oudtshoorn se eie Mej. Suid-Afrika.
Le Roux is op 10 Augustus gekroon en was sedertdien nog nie weer by die huis nie. Sy kon die afgelope naweek vir die eerste keer na die kroning tyd saam met haar ouers, Schalk en Liesel le Roux, haar broer Schalk jr. en haar geliefde honde sien.
Sy is Vrydagaand met 'n luide applous by 'n spesiale geleentheid by die Kango-grotte ontvang. Burgemeester Johan Allers het haar hartlik verwelkom en gesê dat sy die toonbeeld van skoonheid is.
"Sy is 'n inspirasie vir ons in Oudtshoorn en vir almal wat graag hul drome wil nastreef. Sy is werklik 'n voorbeeld."
Die Ad Astra-koor van Hoërskool Oudtshoorn, haar alma mater, en die koor van die Infanterieskool het ook spesiale opvoerings vir haar gehad.
Saterdagoggend is sy met hope blydskap by Eljada Nasorg vir volwasse persone met gestremdhede ontvang. Sy het saam met die Nomads 'n tjek van R170 000 aan die sentrum oorhandig. Twee inwoners, Elaine en Maya Ehlers het ook 'n gehekelde kombers wat hulle self vir haar gemaak het aan haar oorhandig.
Fanus Truter, onderkaptein van die Nomads, het gesê dat dit vir hulle 'n voorreg is om Mej. Suid-Afrika te kan ontmoet en ook om die oorhandiging aan Eljada te kan maak.
"Ons hoop dat ons bydrae hulle in die toekoms kan help. Ons is geweldig beïndruk met hoe die instansie lyk en hoop om in die toekoms meer vir hulle te kan doen."
Aan Le Roux het hy gesê dat sy 'n voorbeeld vir elke jong meisie is om net die beste te wees wat sy kan wees.
"Jy inspireer ons almal. Jy is vir ons 'n voorbeeld en herinner ons elke dag daaraan om meer inklusief te wees."
Sy het tyd gemaak om elke inwoner, ook die wat in die siekeboeg is, te besoek en het uit haar pad gegaan om elkeen spesiaal te laat voel.
Na haar besoek het sy deur die strate van Oudtshoorn gery waar duisende inwoners in die strate gewag het om haar te kon sien.
Saterdagmiddag kon inwoners saam met haar foto's by die De Jager-sportkompleks neem.
Le Roux het gesê dat dit vir haar 'n voorreg is om 'n Oudtshoorniet te wees en om die dorp te verteenwoordig.
"Dit is so lekker om huis toe te kom. Dankie vir almal se moeite en julle ondersteuning. Dit is regtig lekker om huis toe te kom en so mooi verwelkom te word."
Haar ouers, Liesel en Schalk, was ewe opgewonde om hul dogter by die huis te hê.
"Mia is mos nou eintlik volksbesit. Almal wil 'n stukkie van haar hê, maar sy geniet dit vreeslik baie. Dit is waarvoor sy gewerk het, en ons is trots op haar vir dit. Sy geniet dit en sy is gelukkig. Dit is eintlik al wat mens vir jou kind wil hê."
Le Roux is tans besig met haar voorbereiding vir die Mej. Heelal-kompetisie wat op 16 November in Mexiko gaan plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’