OUDTSHOORN NUUS - Lede van Oudtshoorn-polisie, plaaslike sekuriteitsmaatskappye, asook lede van Oudtshoorn AfriForum het Maandagoggend, 29 Junie, 'n gesamentlike massapatrollie deur Oudtshoorn gehou.
Volgens kol. Winston Kiewiets, Oudts-hoorn-stasiebevelvoerder, was die patrollie ten doel om die gemeenskap gerus te stel dat veiligheidstrukture in Oudtshoorn in plek is, veral in lig van die broeiende immigrante- situasie in die land. "Ons gaan nie toelaat dat die gemeenskap reg in eie hande neem nie."
Christo Cloete, AfriForum se veiligheids-hoof, was in gesprek met Oudtshoorn Courant.
"Ons is deur Oudtshoorn-polisie genader om deel te vorm van die massapatrollie en het die geleentheid aangegryp om betrokke te wees."
Volgens Cloete het die patrollie suiwer gegaan om bewusmaking te skep rondom onwettige immigrante.
"Die patrollie het begin vanaf Parkweg, en is grootliks ondersteun deur die polisie, plaaslike en provinsiale verkeer, munisipale wetstoepassing, AfriForum Oudtshoorn en die plaaslike sekuriteitsmaatskappye Ubuntu, MSec, Alert Patrol, Blacklist en Suiderkruis.
"Dit was 'n geslaagde patrollie as mens die massas mense langs die strate in Bridgton, Bongolethu, Riemvasmaak en omgewing waargeneem het. Die belangstelling was groot onder volwassenes en kinders. En ja, daar is mense wat negatiewe kommentaar lewer, maar die positiewe kommentaar oorskry dit by verre. Ons as AfriForum-buurtwag hou weer op 24 Julie 'n massapatrollie en gaan weer in noue samewerking met genoemde groepe hierbo saamwerk. Ons wil graag die gemeenskap uitnooi om betrokke te raak, daar word inisiatiewe in betrokke gemeenskappe gereël, skakel in en raak betrokke. Misdaad raak almal, nie net 'n paar individue nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’