OUDTSHOORN NUUS - Die borgaansoek van ’n man van De Rust wat van moord en verkragting aangekla word is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof vir uitspraak tot môre uitgestel.
Die verdagte, Flip le Grange (29), word daarvan aangekla dat hy die 18-jarige Ronel Martins van die plaas Rietfontein in die De Rust-distrik, verkrag en daarna vermoor het.
Martins het volgens familielede op Vrydag 7 Desember 2018 op Middelplaas by familie gaan kuier maar nooit terug gekeer huis toe nie.
Haar liggaam is op Sondag 9 Desember in 'n ou onbewoonde plaashuis gevind.
Die polisie van De Rust het Le Grange die volgende dag in hegtenis geneem.
Hy het verlede week in sy borgaansoek erken dat hy Martins doodgemaak het omdat sy gedreig het om ‘n saak van verkragting teen hom aanhangig te maak.
Die staat staan borgtog teen omdat Le Grange tereg staan op ‘n Bylae 6 misdryf waarvoor die voorgeskrewe vonnis lewenslange gevangenisstraf is, en hy moontlik met staatsgetuies sal inmeng.
Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, ken Le Grange die staatsgetuies en weet hy waar hulle woon.
Hy stem ook nie saam met die verdediging dat die staat nie ‘n sterk saak het nie en daar is geen getuienis voor die hof dat die verdagte enige besigheidsbelange het wat skade sal lei indien hy in aanhouding bly nie.
Sy regshulpprokureur, Jacques Malan, vra vir die toestaan van borg omdat Le Grange nie ’n vlugrisiko is nie en geen getuienis voor die hof gebring is dat hy met getuies sal kontak maak, hulle intimideer of by enige ander misdaad betrokke kan raak nie. Voorts het hy nog niemand gedreig nie en kry epileptiese aanvalle.
Volgens Malan is daar geen getuienis voor die hof wat verhoed dat borg toegestaan word nie.
“Die hof kan nie in die donkerte rondtas nie en die borgaansoek is nog nie die verhoor nie,” het Malan betoog.
Die ondersoekbeampte het die toestaan of weiering van borgtog in die hande van die hof gelaat.
Landdros Roelf Konstabel het die saak daarna vir uitspraak tot Woensdag 16 Januarie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'