OUDTSHOORN NUUS - "My pa was 'n goeie, lieflike mens en is te vroeg van ons af weggeneem."
So sê Roslyn Isaacs na haar pa, Karel Isaacs (55), die afgelope naweek ns 'n botsing oorlede is. Hy het by Tfasa (Test Flying Academy of South Africa) gewerk.
Karel het Saterdag met sy fiets in Voortrekkerweg gery toe hy met 'n motor gebots het. Hy is Sondag in die hospitaal in George oorlede.
Volgens Isaacs weet sy nie hoe die ongeluk gebeur het.
"Hy was Saterdag in die dorp gewees. Ek is nie seker of hy nog op pad was dorp toe en of hy al op pad terug huis toe was nie. Die polisie het net Saterdagmiddag hier aangekom en gesê my pa was in 'n ongeluk en hy is in die hospitaal in Oudtshoorn."
Isaacs sê haar broer, Carlton, het Saterdag hospitaal toe gegaan en haar pa het oor sy kop en arm gekla.
"Ons het nie gedink sy beserings is so ernstig nie. Ek en my broer en suster is weer hospitaal toe en toe sê hulle vir ons my pa is na George oorgeplaas.
Isaacs sê die familie is Sondag in kennis gestel dat Karel na Oudtshoorn terug geplaas gaan word.
"Ons het Sondag baie oproepe gemaak George toe om te hoor wanneer my pa huis toe gaan kom. Ons het vieruur Sondagmiddag die laaste keer gebel en toe stel hulle ons in kennis dat hy twee ure vroeër aan hoofbeserings oorlede is."
Karel Isaacs se kinders is van links: Carton, Fiona en Roslyn Isaacs. Foto: Liezl van Niekerk
Volgens haar het hulle nooit geweet sy beserings was van so 'n ernstige aard nie.
"My pa was maar 55 jaar oud. Hy was 'n ongelooflike man en het ons so baie geleer. Almal was lief vir my pa omdat hy elke dag dieselfde was. Hy het nooit sleg gepraat van ander nie en was die vriendelikheid self."
Karel laat sy drie kinders, Roslyn, Carlton en Fiona, twee susters en 'n broer en vier kleinkinders agter.
Sy begrafnis is 09:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk in 17de Laan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'