OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Mosselbaai, wat al langer as vier jaar in aanhouding is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en roof met verswarende omstandighede. Vonnisoplegging is tot 21 Julie uitgestel.
Evert Daniels (33) het op 13 Oktober 2018 helder oordag by 'n vrou se woonstel ingebreek, haar met iets soos 'n eetvurk in die gesig gesteek en haar van haar handsak met R400 kontant, 'n beursie, identiteitsdokument, paspoort en mediese kaart beroof.
Hy is nog dieselfde dag, danksy die vinnige optrede van buurtwaglede, in hegtenis geneem.
Daniels wat sy eie verdediging waarneem, het die hof om vryspraak gevra omdat, volgens hom, die meeste staatsgetuies nie geglo kan word nie. Selfs die dokter wat hom in die hospitaal vir 'n kopwond behandel het, het nie die waarheid gepraat nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het in 'n lang uitspraak bevind dat Daniels se weergawe onwaarskynlik is en die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'