OUDTSHOORN NUUS - Juan Steyn (27), wat daarvan beskuldig is dat hy sy medewerkers glo aan die brand wou steek, is op twee aanklagte van poging tot moord skuldig bevind.
Die hofverrigtinge is weer Dinsdag uitgestel omdat die korrektiewe- en proefbeampteverslae nog nie beskikbaar was nie. Die saak is tot 1 Maart uitgestel.
Steyn is daarvan aangekla dat hy meer as vier jaar gelede, op 20 April 2016, die lewens van Mei Willemse en Hendrik Mars, wat saam met hom by 'n motorhawewerkswinkel, gewerk het, in gevaar gestel het deur diesel in 'n put aan die brand te steek nadat hulle die brandstoftenk van 'n ambulans verwyder het.
Mars en Willemse het getuig dat Steyn aan hulle gesê het dat hy vuurhoutjies gaan soek om te kyk of hy, [Mars], "een vuurhoutjie werd is".
"Die eerste vuurhoutjie het doodgegaan en die beskuldigde het toe 'n tweede aangesteek wat sy vingers gebrand het," het Mars getuig.
Al drie mans het brandwonde opgedoen waarvoor hulle hospitaalbehandeling moes ontvang.
Mars het ook getuig dat die beskuldigde se pa hulle R10 000 beloof het om stil te bly oor die voorval, maar dat hulle nie 'n sent gekry het nie.
Steyn het getuig dat hy meer brandwonde as Mars en Willemse opgedoen het en daarvoor in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal beland het.
Hy ontken dat hy 'n vuurhoutjie aangesteek het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Steyn se weergawe verwerp terwyl sy die twee klaers as goeie getuies bevind het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'