OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Dysselsdorp, wat van verkragting en aanranding aangekla is, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig bevind en ontslaan.
Raymondo Botha (27) is daarvan aangekla dat hy die aand van 3 Desember 2018 die vrou in haar eie huis verkrag het terwyl sy geslaap het en dat hy haar op 2 Augustus 2019 met die vuis geslaan het.
Hy het albei aantygings ontken.
Die vrou het getuig dat sy en die beskuldigde goed oor die weg gekom het en dat hulle sedert die Saterdagaand, toe hulle by 'n tavern was baie gedrink en sy die Sondagaand vir hom en nog twee vriendinne gevra het om huis toe te gaan omdat sy wou gaan slaap.
Toe sy uit haar dronkslaap wakker geword het, was die beskuldigde besig om met haar geslagsgemeenskap te hê.
Sy is die oggend na die polisie om 'n klagte teen die beskuldigde te lê, maar het dit later teruggetrek.
Toe hy haar in 2019 aangerand het, het sy besluit om hom van aanranding en weer van verkragting aan te kla.
Sy het onder kruisverhoor getuig dat sy die saak van verkragting sou laat vaar indien die beskuldigde haar om verskoning sou vra, maar hy het dit nie gedoen nie.
Streeklanddros Daniël Boks het bevind dat dit vreemd is dat die klaer nie na 'n dokter gegaan het nie en eers maande na die beweerde verkragting weer 'n klagte gaan lê het.
Botha hou vol dat hy die betrokke nag heelnag geslaap het en ook nie die klaer aangerand het nie.
"Twyfel bestaan by die hof of die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en daarom word die beskuldigde op albei aanklagte vrygespreek," het die landdros afgesluit.
Adv. Shaun Ferreira het vir die beskuldigde verskyn en Elaine Plaatjies het vir die staat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'