OUDTSHOORN NUUS - 'n 41-jarige man, Bevan Manuel, is verlede Sondagaand omstreeks 19:00 in sy ouerhuis met 'n broodmes doodgesteek.
Dié tragiese voorval het in Duikerhof, Bridgton plaasgevind en die vermeende moordenaar is dieselfde dag in hegtenis geneem.
Volgens Manuel se vriendin, Phildene Malgas, het 'n man wat bekend is aan hulle, die voordeur oopgetrap en aggressief na sy meisie gesoek.
"Die meisie na wie die man gesoek het, was iemand met wie Bevan se broer 'n ruk lank gelede mee uitgegaan het. Bevan het toe vir hom gesê dat die meisie na wie hy soek, nie hier is nie, en dat sy lankal nie meer by hulle huis kom nie. Hy het ook vir die man gevra waarom hy die deur so ooptrap. Dis toe dat die man Bevan deur sy gesig en in die nek met die mes steek. Terwyl ek histeries geskreeu het oor die stukke bloed wat by Bevan se mond en nek uitkom, het die man weggehardloop. Ek het toe dadelik die mense oor die pad gevra vir hulp en hulle het die ambulans gebel, maar dit was toe alreeds te laat," vertel 'n emotionele Malgas.
Manuel se suster het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat haar broer nie 'n vlieg sou seer maak nie en dat sy dood sinneloos was.
"Dit voel vir my so onwerklik en die huis is sommer stil sonder hom. Ek hoop die vuilgoed wat hom gesteek het, kry geen borgtorg nie," het sy gesê.
Ao. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het by navraag bevestig dat 'n klagte van moord geopen is.
"Na bewering was daar 'n stryery tussen die oorledene en die 33- jarige verdagte. Die verdagte het die oorledene met 'n mes in sy nek gesteek. Die ambulans-personeel het die 41-jarige man op die toneel dood verklaar. Die 33-jarige verdagte het reeds Dinsdag in die Oudtshoorn-landroshof verskyn," lui die verklaring.
Manuel se begrafnis is eerskomende Saterdag by sy ouma se woning in
Asstraat (Ou Lokasie) waar hy grootgeword het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'