OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Madikane Foundation het Maandagoggend, 11 Augustus, hande uit die moue gesteek om 'n vervalle huis in Bongolethu te herstel.
Volgens Albert Nkole van die Madikane Foundation is die organisasie genader om die huis te herstel nadat dit oor 'n tydperk heeltemal vervalle geraak het.
"Dit is 'n voorbeeld van hoe dwelm-misbruik 'n huis en 'n gesin kan vernietig. Die dak is afgebreek, boumateriaal is verkoop en die huis het gevolglik in 'n ernstige toestand verval," het Nkole gesê.
Volgens hom het die huis ook besondere historiese betekenis. Een van die sogenaamde Junie 16 Bongolethu Drie, wat in 1985 doodgeskiet is, is volgens hom in dié huis gebore en het daar grootgeword.
"Die enigste oorblywende kleindogter het die huis by die Madikane Foundation geregistreer met die oog op restourasie," het Nkole gesê.
Hy het verduidelik dat daar, in die gees van Vrouemaand, besluit is om die huis te herstel as 'n simbool van hoop, waardigheid en erfenis vir toekomstige geslagte.
Die Madikane Foundation benodig egter die gemeenskap se ondersteuning om die projek te voltooi.
"Enige persoon, besigheid of organisasie wat boumateriaal wil skenk, soos sement, stene, sinkplate, hout, verf, deure, vensters, elektriese materiaal of enige ander bruikbare materiaal, is welkom om 'n bydrae te lewer," het Nkole gesê.
Hy het afgesluit deur te bevestig dat 'n amptelike opening gehou sal word sodra die herstelwerk aan die huis voltooi is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’