OUDTSHOORN NUUS - Agt maande nadat die konstruksiemaatskappy, NMC, aan 'n kontrak van R213 miljoen op die De Rust-pad begin werk het, het hulle finansiële paadjie doodgeloop.
Volgens inligting het hulle poging om onder sakeredding geplaas te word, nie geslaag nie en het hulle nou aansoek om likwidasie gedoen.
Die maatskappy het verlede jaar in April met opgraderingswerk op die pad tussen De Rust en Oudtshoorn begin.
Nadat die Oudtshoorn Courant in Julie berig het dat die provinsiale regering positief is oor die vordering, het dinge begin afdraande loop en gerugte het die ronde gedoen dat die maatskappy finansieel in die knyp is.
'n Gedeelte van die pad wat 1,8 km beslaan, is in Oktober deur die provinsie afgekeur en moes heeltemal oorgedoen word.
Navrae oor gerugte van NMC se finansiële posisie is op daardie stadium deur die provinsie besweer en daar is verwys na waarborge wat in plek is en dat die provinsie sal ingryp indien daar probleme is.
Die bom het gebars toe die Oudtshoorn Courant verlede jaar in November bevestig het dat NMC nie slegs miljoene rande aan plaaslike subkontrakteurs verskuldig is nie, maar ook etlike miljoene aan kontrakteurs skuld wat elders in die land vir hulle werk verrig het.
Die Wes-Kaapse regering het NMC 'n sperdatum gegee waarop hulle moes kon bewys dat hulle subkontrakteurs kan betaal en aan ander vereistes van die kontrak voldoen.
Nadat hulle nie die bepalings van die sperdatum kon nakom nie het die provinsie hulle aan die einde van November in kennis gestel dat hulle kontrak beëindig word.
Op 3 November is daar op die voorblad bespiegel dat NMC dalk nie finansieel die pyp gaan rook nie.
'n Woordvoerder van die maatskappy het die Oudtshoorn Courant ingelig dat hulle met die kontrak voortgaan totdat die hof uitsluitsel oor die aangeleentheid gee.
Hy het ook aangedui dat NMC se regspan oorweeg om stappe teen die koerant te neem op grond van die berig in November.
Alle werk aan die pad is egter deur NMC self aan die begin van Desember gestaak en sedertdien staan werk aan die pad botstil.
Die Oudtshoorn Courant het aan die begin van Januarie berig dat NMC vir sakeredding aansoek gedoen het. Uit hulle dokumentasie blyk dit dat hulle totale skuld landwyd meer beloop het as die kontrak van R213 miljoen waaraan hulle gewerk het.
Volgens Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, het hulle inligting ontvang dat NMC gelikwideer word en dat daar nou met 'n proses begin is om 'n nuwe kontrakteur aan te stel.
Volgens hom sal werk aan die pad waarskynlik eers in Mei hervat word.
La Hoe sê dat NMC reeds ongeveer 15%, dit wil sê omtrent R32 miljoen, van die totale kontrakbedrag ontvang het.
Hy het ook bygevoeg dat die vertraging van die proses totdat 'n nuwe kontrakteur aangestel word, waarskynlik die aanvanklike beraming van R213 miljoen met ten minste 15% sal opjaag.
Lees 'n vorige artikel: Doodloopstraat of nie, vir kontrakteur
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'