OUDTSHOORN NUUS - Een van die luiperds wat in die Huis-rivierpas tussen Calitzdorp en Ladismith voorkom, is verlede week dood nadat dit vermoedelik deur 'n voertuig getref is.
Oudtshoorn Courant het vroeër vanjaar berig oor drie luiperds wat deur ambulans-personeel in dié gebied opgemerk is.
Emile Johannes het vroeg Vrydagoggend, 20 Februarie, terwyl hy van Calitzdorp na Zoar onderweg was, op die dooie dier afgekom. Hy vermoed dit kon 'n jong luiperd gewees het.
Hy vertel dat hy die dier teen die pad sien lê het.
"Ek het uitgeklim en hom bietjie verder uit die pad geskuif. Dit was nogal hartseer om hom so te sien lê."
Rory en Daniel Duncan, inwoners van Oudtshoorn, het ook op 20 Februarie 'n luiperd in die pas gesien.
"Dit was 'n ongelooflike ervaring."
Volgens Jeannie Hayward, kommunikasie- en mediabestuurder van die Cape Leopard Trust, is hulle bewus van luiperdaktiwiteit in die Huisrivierpas-omgewing. "Die gebied het in 2022 deel gevorm van ons grootskaalse kamera-opnameprojek in die Klein-Karoo," het sy bevestig.
Hayward verduidelik dat luiperds in die Kaapse streek groot tuisgebiede het en nie tot een spesifieke area beperk is nie. In hierdie geval vermoed hulle dat 'n volwasse wyfie haar welpies in die omgewing van die pas probeer wegsteek het.
"'n Wyfie laat haar welpies alleen wanneer sy gaan jag. Ongelukkig het die welpies waarskynlik te naby aan die pad geskuil, en een is doodgery," sê sy.
Bergpasse hou 'n besondere risiko vir luiperds in, aangesien paaie hul natuurlike berghabitat deurkruis en diere noodgedwonge die pad moet oorsteek. Volgens Hayward is voertuie 'n gereelde oorsaak van sterftes onder luiperds in die Wes-Kaap, en elke verlies is 'n ernstige terugslag vir die spesie.
"Die meeste voorvalle vind snags op bergpasse en paaie deur bergagtige terrein plaas. Wanneer 'n luiperd raakgery word, kry dit groot media-aandag, maar talle ander diere word daagliks op ons paaie doodgery," voeg sy by.
Sy doen 'n dringende beroep op motoriste om versigtig te bestuur: "Verminder spoed in bergpasse, veral snags, en wees waaksaam vir enige beweging langs of op die pad, nie net vir luiperds nie, maar vir alle wild."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’