OUDTSHOORN NUUS - Die Global Network of Evangelists (GNE), 'n bediening van die internasionaal bekende Luis Palau Association beoog 'n gratis Gospel-fees in Oudtshoorn van 1 tot 4 Oktober by die Plate.
Die Love Oudtshoorn Festival hoop om groot getalle te trek na die besonderse geleentheid.
Volgens Jan Combrinck wat betrokke is by fees, gaan die gratis geleentheid meer wees as net musiek.
"By so 'n fees heers daar 'n atmosfeer van groot verwagting en hoop terwyl duisende mense byeenkom om die goeie nuus van Jesus Christus te hoor. Besoekers word uitgenooi om optredes deur bekende musiekkunstenaars, gesinsvermaak, aksiesportvertonings en talle ander aktiwiteite te beleef. Die hoogtepunt van die fees is die verskeie geleenthede waar mense die Evangelie kan hoor en daarop kan reageer."
Die verkondiging van die Evangelie vind egter nie net vanaf die hoofverhoog plaas nie. "Dit word ook deur middel van verskeie uitreikaksies gedoen, onder meer by gevangenisse, skole, op straat, tydens tematiese bankette, by mediese klinieke en ander gemeenskapsgeleenthede. Na afloop van hierdie uitreikaksies maak opvolgspanne van plaaslike kerke kontak met nuwe gelowiges om hulle te ondersteun, geestelik te begelei en te help groei in hul geloof."
Die Global Network of Evangelists het lede in meer as 70 lande en werk saam met kerke en gemeenskapsleiers wêreldwyd om die evangelie te verkondig, die liggaam van Christus te verenig, en gemeenskappe op praktiese maniere te dien.
Die organisasie se missie is om evangeliste te identifiseer, toe te rus en te mobiliseer vir groter gesamentlike impak.
Besoek www.palau.org vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’