OUDTSHOORN NUUS - Elizabeth Wilhelmiena Sharp, beter bekend as Lizzy, het gister (Donderdag) haar 100ste verjaarsdag gevier.
Sy is 'n inwoner van Tuishuis in Oudtshoorn. Volgens haar dogter, Juliana, is Lizzy se gesondheid onder omstandighede baie goed.
"Behalwe vir haar gehoor wat besig is om agteruit te gaan en die sig wat slegter word is my ma gesond en is haar gees nog goed.
"Sy gebruik nie medikasie vir enige siektes nie en het nog haar mangels en haar blindederm," het sy aan die Oudtshoorn Courant vertel.
Lizzy het haar verjaardag saam met haar familie met koek en tee gevier.
Juliana sê haar ma het in die Oudtshoorn-distrik grootgeword waar sy haar man, Johnny Sharp, ontmoet het.
Hy het op die spoorweë gewerk terwyl sy 'n bekwame huisvrou en voltyds ma vir haar drie kinders was.
Haar man het haar egter in 1979 ontval en haar seun het ook 'n paar jaar gelede gesterf.
Juliana sê Lizzy het haarself jare lank besig gehou met breiwerk en het self vir die tehuis hangeroortreksels gebrei wat hulle verkoop het.
Wyle Elizabeth Sharp
"Sy was veral lief daarvoor om vir die kleinkinders popklere te brei."
Lizzy het twee dogters, een woon in Oudtshoorn en die ander in Boksburg, agt kleinkinders en 12 agterkleinkinders.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'