OUDTSHOORN NUUS - Die dood van 'n man, wat na bewering vermoor is, word tans deur Dysselsdorp-speurders ondersoek.
Die liggaam is Donderdag, 12 Januarie omstreeks 02:15 langs die Kammanassiepad in die landelike omgewing van Dysselsdorp gevind.
Volgens Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was die Dysselsdorp-polisie met 'n voertuigpatrollie op die Kammanassiepad besig toe hulle op die liggaam van die man afgekom het. Hy is met veelvuldige oop wonde aan sy gesig en kop gevind en op die toneel deur paramedici dood verklaar. Die oorsake rondom sy dood word nog ondersoek.
Geen naasbestaandes van die oorlede het nog na vore gekom nie, en bly die identiteit van die man nog onbekend.
Die oorledene, 'n blanke man, het 'n wit T-hemp en grys kortbroek aangehad toe die polisie op sy liggaam afgekom het.
Die ondersoekbeampte sers. Daniel Nel, moedig die publiek aan om met enige inligting, wat kan lei tot die inhegtenisname van die misdadiger, na vore te kom. Nel kan by 079 093 9962 gekontak word met enige leidrade of inligting rakende die voorval.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'