OUDTSHOORN NUUS - Anton Greeff (65) is Vrydagaand na ’n motorongeluk in Meiringspoort oorlede. Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie.
Greeff was ’n bekende en geliefde inwoner, veral binne die boeregemeenskap.
Volgens sy skoondogter, René Thiart, is Greeff op 2 Augustus 1960 op Lategansvlei gebore, waar hy grootgeword en later geboer het. Hy was getroud met Margueritte Greeff, beter bekend as Rita, en was ’n toegewyde pa van drie seuns, Corné, Anton en Riaan, en ’n trotse oupa van drie kleinkinders.
“Hy het tot onlangs saam met sy goeie vriend, oom Hardi van Calitzdorp, gewerk. Hy was bekend vir sy oop hart, sy bereidwilligheid om ander te help en sy besondere handvaardigheid. Met groot geduld en toewyding het hy selfs die fynste werkies aangepak en niks half gedoen nie. Sy liefde vir diere en kinders het diep spore in die gemeenskap gelaat.”
Greeff word uit dieselfde kerk begrawe wat sy pa, Cor Greeff, destyds vir die dorp help bou het.
“Sy familie sal hom onthou as Anton Greeff. Sy naam het presies weerspieël wie hy was.”Die roudiens word Saterdag 24 Januarie om 10:00 by die Shalom Gemeente, Hoogstraat 274, gehou en sal deur dr. Leon Zeilinga waargeneem word.
Hy word oorleef deur sy seuns, skoondogters, kleinkinders, broers en sy suster.
Oudtshoorn Begrafnisdienste hanteer die reëlings.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’