OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het op 23 Februarie 'n openbare vergadering, wat handel oor die leiwaterskema in Oudtshoorn, gehou. Ongeveer 40 inwoners van Oudtshoorn, wat leiwaterbelastingbetalers is, het die vergadering, bygewoon.
Johan Allers, Oudtshoorn-raadslid en Chris Swart, senior bestuurder: Oudtshoorn-water en riolering het die publiek toegespreek.
Swart het verduidelik dat die vergadering saamgeroep is om verantwoordelike persone ('n ondersteuningsgroep) te identifiseer. Die persone sal verteenwoordigers wees van die 12 blokke (ooste- en westekant) binne die leiwaterskema. Swart het aan die inwoners gesê dat hy dit baie duidelik wil stel dat die 12 persone slegs 'n ondersteunende rol gaan speel, en dat hulle probleme wat voortspruit uit die leiwaterskema saam met Swart en sy span gaan hanteer.
Swart is sedert 1 Februarie aangestel om te sorg dat die leiwaterskema glad verloop, en het genoem dat Herold Adonis (Oudtshoorn-water en riolering) en Colin Saayman (Oudtshoorn-water en riolering) deel van dié span sal wees.
Volgens Allers sal daar in die toekoms gepoog word om die leiwaterbelasting wat maandeliks betaal word, vir die instandhouding van die leiwaterskema aan te wend.
Inwoners wat probleme, klagtes of terugvoering het rakende die leiwaterskema, kan 044 203 3961/3954 skakel of 'n e-pos na booyseng@oudtmun.gov.za stuur. (Let op dat die telefoon nie tydens beurtkrag werk nie).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'