OUDTSHOORN NUUS - ydens die boekedag wat op 28 Februarie by die Neelsie-teater by Arbeidsgenot aangebied is, het die idee van 'n volwaardige Afrikaanse lees- of boekefees vir die dorp gestalte gekry.
Oudtshoorn is deur die toewyding en deursettingsvermoë van CJ Langenhoven, die geboorteplek van Afrikaans as amptelike taal erken en Arbeidsgenot is die plek waar Langenhoven sy skryfwerk gedoen het en gesorg het dat Afrikaans gelees word.
Die Arbeidsgenot-komitee, wat die boekedag en verskeie ander geleenthede by die Neelsie gereël het, het hierdie week vergader en die moontlikheid van 'n Afrikaanse leesfees bespreek. Daar is konsensus bereik dat Oudtshoorn, as die tuiste van Langenhoven en Afrikaanse skryfwerk die ideale plek vir so 'n leesfees is. Een van die komiteelede het gesê daar is talle leesfeeste regoor die land en dit is hoog tyd en logies dat Oudtshoorn ook die tuiste van 'n boekfees moet wees.
Die Neelsie-teater is die ideale venue vir so 'n leesfees. Daar is voorlopig besluit om die fees vir Junie 2027 te beplan aangesien dit nie sal inmeng met die KKNK nie en ook twee maande voor die Klein Karoo Klassique plaasvind.
Daar lê nog baie werk en beplanning voor, maar die komitee wil Oudtshoorniete solank bewus maak van die fees. Meer besonderhede sal gedeel word soos wat die verskillende beplanningsfases aangepak word.
Intussen word daar weer, soos verlede jaar met die Afrikaans100-vieringe, koppe bymekaargesit vir 'n program by die Neelsie wat in Mei aangebied word. Met die sukses van verlede maand se boekedag, sal 'n aantal plaaslike skrywers weer geleentheid gegee word om deel van die program te wees. Daar sal ook weer na skole vir deelname uitgereik word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’