OUDTSHOORN NUUS - Die langsdienende personeellid van die Oudtshoorn-landdroshof, Johannes Jonathan (60) tree op 30 Desember na 32 jaar af.
Volgens Jonathan, alombekend as Hannes, werk hy vanaf die ingebruikneming van die nuwe gebou in 1991 as algemene assistent by die hof wat onder andere moes toesien na die netheid van die landdroskantoor.
Volgens hom het hy op 4 Januarie daardie jaar saam met landdros René Gerber en vyf gevangenes die hofbanke van die ou hofgebou op die hoek van Hoog- en Kerkstraat na die nuwe hofgebou aangery.
Landdros Jaco Lambrechts, wat in 2020 as hooflanddros afgetree het, skryf in sy getuigskrif dat hy op 1 Julie 1993 by die kantoor begin werk het en Jonathan daar kom kry het.
Hulle het vir 27 jaar saam gewerk en hy skryf dat daar aan die beginjare nie sekerheidsbeamptes was soos vandag nie, en Jonathan verantwoordelik was om soggens die gebou oop te sluit en aan die dag weer toe te sluit.
"Jonathan is dus vertrou met al die sleutels van die gebou en hy moes ook elke dag gevangenes by die tronk gaan haal om die hof te help skoonmaak omdat hulle toe net twee skoonmakers was."
Lambrechts skryf verder in sy getuigskrif oor Jonathan dat daar nooit van die gevangenes weggehardloop het nie.
"Jonathan is ook aangewend om te help met die neem van vingerafdrukke vir identiteitsdokumente en selfs met die invul van die nodige vorms.
Hy moes ook vir baie jare elke dag pos by die poskantoor gaan haal en uitgaande pos gaan aflewer."
Volgens Lambrechts was geen taak vir Jonathan te groot en het hy altyd alles waaraan hy gevat het met oorgawe gedoen.
Jonathan wat Sondag sy 60ste verjaarsdag gevier het, sê hy het nog geen planne vir die toekoms nie, maar wil eers net lekker rus.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'