OUDTSHOORN NUUS - CJ Langenhoven is 152 jaar gelede, op 13 Augustus 1873, gebore. Ter herdenking van sy geboortedag bied die Arbeidsgenot-komitee Woensdagaand, 27 Augustus, ’n spesiale kultuuraand van musiek, vertellings en voorlesings aan.
Die Langenhoven Gimnasium-koor gaan die aand luisterryk open, waarna die bekende skrywer, Jan van Tonder, die gehoor met ’n insetsel oor Langenhoven gaan boei.
Verhoogkunstenaar Theo Witbooi betree ook die verhoog, terwyl drie van Gimmies se leerders, Ilse Stegman, Bella-Mae Strydom en Jean Joubert, elk ’n bydrae oor Langenhoven gaan lewer.
’n Soortgelyke program wat op 8 Mei vanjaar by die Neelsie-teater aangebied is ter viering van Afrikaans100, is uitstekend bygewoon. Hierdie aanbiedings, wat deur die Arbeidsgenot-komitee gereël word, beklemtoon nie net die kulturele en erfeniswaarde van Arbeidsgenot nie, maar dra ook daartoe by dat die Neelsie-teater, wat oorspronklik deur inwoners en sakelui gefinansier is, steeds tot voordeel van die gemeenskap benut word.
Die aand se program begin Woensdag stiptelik om 18:00 met die 45 lede van die Gimmies-koor en word teen ongeveer 19:00 weer deur hulle afgesluit.
Kaartjies
Daar is slegs 80 kaartjies beskikbaar teen R50 elk, wat ook tee, koffie en melktert insluit.
Kaartjies moet vooraf gekoop of bespreek word en is beskikbaar by die KKNK-kantore agter Arbeidsgenot in Jan van Riebeeckweg, of by Christo Smit van Te Heerlik tee-proelokaal en teewinkel in Langenhovenweg 86.
- Besprekings kan ook telefonies gedoen word by 072 833 7723.
- Vir verdere navrae oor die program, skakel Hannes by 083 467 1522.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’