OUDTSHOORN NUUS - Thomas Oosthuizen is Vrydag aangewys as die Landbouwerker van die Jaar 2023 vir die Klein-Karoo-streek. Die spesiale toekenning is tydens die Wes-Kaap Prestige Agri-toekennings aan hom oorhandig.
JP Schoeman-boerdery is gedurende die geleentheid as die beste presterende plaas aangewys, terwyl Marietta Jansen die toekenning vir beste potensiaal ingepalm het.
49 mans en 18 vroue is vir die toekennings ingeskryf.
Dié toekennings is geïnisieer om erkenning te gee aan die waardevolle en belangrike bydrae wat landbouwerkers tot die volhoubaarheid en groei van die landbousektor in die Wes-Kaap lewer.
Deur die aanbieding van die toekenning wil die Wes-Kaapse departement van landbou die landbouwerkers se omvang en begrip van die landbousektor verbreed en hulle aan nuwe lewenservarings blootstel. Dit dien verder as 'n manier om landbouwerkers te motiveer om hul kennis en vaardigheidsbasis te verbeter ten einde geleenthede en persoonlike groei vir toekomstige loopbaanontwikkeling te ontsluit.
Byron Jacobs van die departement landbou, het gesê dat die toekennings in 2006 deur Elsa Jordaan begin is.
"Sy het 'n manier gesoek om haar landbouwerkers vir hul toewyding te vereer. Die toekennings het met 36 deelnemers begin. In 2022 was daar meer as 1 500 deelnemers."
Sageas McKenna, wat op Saag en Hazel Jonker se plaas werk, het in 2011 Landbouwerker van die jaar gewen. Hy is as die algehele wenner landwyd aangewys.
Hy het ander werkers aangemoedig om trots te wees op die werk wat hulle doen.
"As jy nie hou van hoe dinge is nie, of hoe dit vir jou uitwerk nie, verander jouself. Moet ook nooit skaam wees vir wat jy doen nie. Ek was nie goed in vee grootmaak nie. Ek moes uitvind waarin ek goed is, maar toe ek my roeping kry het ek my alles ingesit om die beste te wees daarin. Ek wil ander werkers aanmoedig om dieselfde te doen."
Die wenners van die verskillende kategorieë dring deur na die provinsiale toekennings waar die algehele wenner van die Provinsiale Landbouwerker van die Jaar 2023 tydens 'n spoggeleentheid in November by Grand West in die Kaap aangewys gaan word.
Die topdrie wenners is as volg:
Algemene werker
- Lindisipho Thisani
- Jacqueline Booysen
- Jan Branner
Bestuurder
- Chester de Laan
- Selwyn Daniels
- Jan Valentyn
Besproeiingspesialis
- Demetri van der Merwe
- Francois Jaques Piedt
- Vernett Galant
Tegniese operateur
- Frans Stuurman
- Andries Plaatjies
- Nicodemus Pieterse
Sosiale ontwikkeling
- Anneline Goliath
- Marietta Jansen
- Elzane Campher
Administratiewe personeel
- Esmarelda Maarman
- Leanne Quantini
- Zoleka Dedericks
Voorman
- Morné Basie
- Jonathan Jantjies
- Shahieda Rademeyer
Junior bestuur
- Gerald Xhip
- Brenden Goliath
- Christolino Perel
Middel bestuur
- Megan Bruintjies
- Johannes Jacobs
- Micheal Arends
Diereproduksie
- Thomas Oosthuizen
- Noof Tiemie
- Vernon van Beulen.
Piet en Laura Schoeman ontvang die toekenning vir die beste presterende plaas.
Thomas Oosthuizen is aangewys as die Landbouwerker van die Jaar 2023 vir die Klein-Karoo-streek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’