Met dié boodskap trek die 20ste Absa KKNK môre met 'n vaart weg op 'n reis wat feesgangers skaars gaan laat grond vat. Volgens die inhoud van die feesprogram gaan fees nommer 20 een wees om te onthou.
Op die verhoë is daar 'n enorme 150 aanbiedings waarvan meer 50 debuutproduksies is. Onder die produksies is ook 22 splinternuwe tekste en vyf verwerkings van internasionale toneelstukke. Behalwe vir die produksies is vanjaar se Absa uitstalling van visuele kuns in die Prins Vincent-gebou ook 'n moet.
Baron van Reedestraat, wat Woensdag reeds gesluit moes word om die oprigting van 'n toegangspoort en verskeie stalletjies toe te laat gaan more om 12:00 skouspelagtig geopen word. Straatkroeë, eetplekke en selfs 'n fliek gaan deel van Baron van Reedestraat se kuierspasie wees.
By die Rivierbuurt sal feesgangers weereens ure kan deurbring met 'n groot verskeidenheid stalletjies, eetplekke en musiekprogramme.
Kuierplekke by die rivierbuurt:
- Die KykNET-musiekverhoog
- Die wyntent
- Die Kokkedoorstoor
- Absa-kunsmark
- Die wegkruipplek
- Pretpark en kindervermaak
Persone in rolstoele word daarop gewys dat die terrein van die Oudtshoorn-sportterrein nie orals maklik begaanbaar is nie, maar daar kan vooraf by 044 203 8655 gereël word vir hulp met rolstoeltoegang. Reëlings vir hulp met rolstoeltoegang by ander produksies kan ook by die nommer gereël word.
Carina Fourie en Kaylie Abrahams het verlede week reeds begin voorbrand maak vir die jaar se Kykie-veldtog. Hulle was deel van die span wat plakkers op winkelvensters aangebring het om die fees se tema te verkondig. Foto:Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'