OUDTSHOORN NUUS - Lewies Krisjan (63) is verlede week deur die Wes-Kaapse departement van onderwys vereer vir die 33 jaar wat hy in hul diens is.
Hy is 'n bekende en gerespekteerde gesig onder die leerders van Hoërskool Oudtshoorn, want nie net hou hy al vir jare die skoolterrein skoon nie, maar is hy ook hul grootste ondersteuner.
Krisjan sê hy het van die plaas af dorp toe gekom om vir hom en sy gesin 'n beter toekoms te kom soek.
"Ek het met groot trots 24 jaar gelede by die voordeur van Struisies ingestap en my pos as opsigter beklee. Voor dit het ek by Laerskool Wesbank gewerk. Ek het geweet hier kan ek 'n verskil maak. Ek is vir baie dinge by die skool verantwoordelik, maar die netheid van die skool en die terrein is my grootste prioriteit.
"Ek spuit ook die lyne van die sportveld, en maak doodseker dat dit netjies lyk, want ons kinders moet trots wees om op hul skool se veld te kan speel. Ek ken elke plant en elke boom en weet presies waar wat is."
Verder maak hy seker dat al 30 klaskamers en die gange elke dag netjies uitgevee is, en doen hy ook sy deel as bode by die skool. Saam met hom werk twee ander mense wat help om die terrein en skool in stand te hou.
Krisjan vertel dat hy nog altyd trots was op die skool en die leerders en ondersteun hy graag die eerste rugbyspan.
"As hulle wen, wen die skool mos. Ek is maar altyd langs die veld as hulle speel en dan praat ek met hulle. Soms praat ek met hulle voor wedstryde ook dat hulle gemotiveerd kan bly en hul beste gee en as hulle nonsens aangejaag het dan sê ek dit ook vir hulle."
Hy vertel ook hoe hy saam met hulle gaan toer het om hulle tydens wedstryde te ondersteun.
"Ek wou niks mis nie. Ek is mos trots op my skool en my kinders. Ek praat baie met hulle en as ek sien hulle doen iets verkeerd of gooi papiere rond, dan laat ek dat hulle dit optel. Dissipline is belangrik wanneer hulle eendag in die groot wêreld moet uitgaan."
Krisjan ry in sy vrye tyd fiets en het al 10 keer die Cape Argus gery.
"Ek het een jaar deelgeneem teen 623 fietsryers en 18de gekom. Ek sou 'n beter posisie gehad het, as ek nie geval het nie."
Volgens hom is alles wat hy sover bereik het net die Here se genade.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’