KLAARSTROOM NUUS - Op 83 is Suid-Afrika se bekende filmman, Koos Roets reeds 64 jaar in die filmbedryf en nog volstoom agter die kameras en op filmstelle. Hy het in 1962 as kamera-assistent by Jamie Uys begin werk en sy eerste groot deurbraak as kameraman was met Die Geheim van Nantes. Daarna was hy kameraman van talle films van Jans Rautenbach en Katinka Heyns en ook talle TV-reekse met Katinka Heyns as regisseur. Van hierdie films en TV-reekse was onder andere Pappalap, Jannie Totsiens, Abraham, Paljas, Die Wonderwerker, Onder Draai die Duiwel Rond en Feast of the Uninvited.
Hy het later besluit om sy eie films te maak en films soos Die Erfgenaam, Vlug van die Seemeeu, Sersant en die Tiger Moth en Kootjie Emmer, het gevolg. Hy was ook die regisseur van films soos Die Groen Faktor, Daar kom Tant Alie en die televisiereekse Koöperasiestories en Manakwalanners.
Wat hy egter die meeste geniet is om draaiboeke te verwerk soos byvoorbeeld die teaterstuk, Faan se trein wat hy as rolprent verwerk het. Dan was daar ook Jeanne Goosen se ’n Pawpaw vir my Darling wat hy vir die silwerskerm verwerk het.
Die filmgogga het om in 1952 gebyt toe hy ’n bokskamera as geskenk gekry het. “Ek het skyfieprojektors uit Post Toasties bokse gebou, ou negatiewe in water geweek, die emulsie afgewas en nuwe prentjies met Indiese ink daarop geteken,” onthou hy en vertel hoe hy as skoolkind tydens een van sy skyfievertonings byna die studiesaal afgebrand het toe ’n Post Toasties-projektor aan die brand geslaan het.
Hy het sy eerste rolprentkamera gekoop nadat hy skelm sy verjaarsdaggeld van 10 sjielings op ’n wenperd in die Durban July deur ’n skoolwerker laat verwed het. Dit was ’n Kodak Brownie wat hy vandag nog besit. Hy en 'n vriend Dougie Hitchcock het troues, doopgeleenthede en selfs begrafnisse begin verfilm en genoeg geld gemaak om ’n 16 mm-klankprojektor te koop waarmee hulle Vrydag- en Saterdagaande films in Kestell se stadsaal vertoon het.
Sy eerste kennismaking met professionele filmvervaardiging was in die vroeë sestigs met Lord Oom Piet. “Die kamerassistent het drooggemaak, hy is afgedank en ek is onverwyld in in sy plek aangestel. Ek was by die diep kant ingegooi en moes dadelik my staal wys,” sê hy.
Na 64 jaar in die filmbedryf sê Roets hy het geen idee aan hoeveel films hy al gewerk het nie, maar skat dat dit ongeveer 55 speelfilms moet wees en nog ’n ‘enorme klomp’ televisieproduksies. Van die talle toekennings wat Roets deur die jare ontvang het is die toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Kultuur, wat hy reeds drie keer ontvang het, die belangrikste. Die Safta-toekenning vir lewenslange bydrae is ook vir hom spesiale.
Roets werk nog volstoom as kameraman op filmstelle en vir korporatiewe produksies vir motorvervaardigers. Oor die toekoms sê hy: “Ek hoop dat die rolprent oor Gerrie Coetzee se lewe die jaar gaan gebeur, asook Faan se Stasie.”
Oor ouderdom haal hy vir Clint Eastwood aan: “I wake up in the morning and then I make sure to keep the old man out!” Vir hom is ouderdom wat mens daarvan maak.
“Ek is ’n volslae petrolkop en krap nog heeldag aan ou motors. Ek restoureer op die oomblik ’n 1935 Morris Tourer vir Eunice en ’n 1960 Lotus 7 series 1. Ek het ook vir baie jare gevlieg en het ’n passie vir ou vliegtuie.”
Hy en Eunice Visser woon sedert 2010 op Klaarstroom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’