Update
OUDTSHOORN NUUS - Die klagtes teen twee vorige bevelvoerders van die Oudtshoorn Infanterieskool, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof deur die staat teruggetrek.
Kol. Nkhabu Nthejane en brig.genl. Xolani Mankayi, het tereggestaan op aanklagte dat hulle die Oudtshoorn-polisiestasie wou opblaas en die polisie verhinder het in die uitvoering van hul pligte.
Hulle het na bewering in Mei 2016 soldate in gepantserde voertuie na die Oudtshoorn-polisiestasie laat opruk en gedreig om die stasie op te blaas indien sowat 35 soldate wat by 'n kuierplek in Bongolethu in hegtenis geneem is, nie onmiddellik vrygelaat word nie. Die soldate is nog dieselfde aand vrygelaat.
Die saak was al in 'n gevorderde stadium van verhoor toe streeklanddros Mark van Wyngaardt, in November 2017 oorlede is en dit daarna as nuwe saak op die hofrol geplaas is.
Vertoë wat tot die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) gerig is om die saak van die hofrol te verwyder was onsuksesvol met die beslissing dat die verhoor moet voortgaan.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak in Januarie vanjaar vir 'n week se verhoor, van 8 tot 12 April, uitgestel.
Die twee beskuldigdes het intussen verdere vertoë tot die DOV gerig wat nou beslis het dat die aanklagte teruggetrek word.
Nthejane het buite die hof gesê dat hulle baie verlig is dat die saak nou iets van die verlede is.
"Ek kan nou fokus op my werk," het hy bygevoeg.
Klik hier vir vorige artikels:
- Senior offisiere se saak uitgestel
- Offisiere se saak tot 2016 uitgestel
- Weermaghoës se saak weer uitgestel
- 16 Instructors in military court
- Military officers failed to appear in court
- Saak teen weermag-offisiere uitgestel
- Twee in hof vir intimidasie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'