PRINS ALBERT NUUS - Inwoners van Klaarstroom het Maandag 23 Februarie vir die eerste keer in 14 dae weer krag gehad. Die kragonderbreking het gevolg nadat sewe kragpale en kragkabels ongeveer 20 km buite Beaufort-Wes twee weke gelede op Sondag 8 Februarie deur 'n storm beskadig is.
Volgens Linda Jaquet, burgemeester van Prins Albert, waaronder Klaarstroom val, het diep modder en sagte grond Eskom-werkers se taak bemoeilik.
"Hulle moes 113 gate boor om nuwe kragpale op te sit. Die uitdaging was dat die gate in rots geboor moes word waarvoor 'n boor wat bykans 30 ton weeg, gebruik is," het sy verlede week gesê.
In 'n mediaverklaring het Eskom gesê dat Rietbron en Klaarstroom twee dorpe op die kraglyn is, wat deur die beskadiging geraak word en dat spanne reeds kort na die storm op die toneel was. Prins Albert-munisipaliteit het daagliks met die inwoners van Klaarstroom gekommunikeer en verskeie tydelike maatreëls in plek gesit om inwoners by te staan.
Volgens Jaquet het Eskom ver-duidelik dat dit nie moontlik was om die munisipaliteit se kragopwekker aan die Eskom-netwerk te koppel nie. Straatligte kon steeds werk as gevolg van 'n kragopwekker by die suiweringswerke en inwoners kon hulle selfone by die gemeenskapsaal se kragopwekker laai.
Gasbottels is ook deur die munisipaliteit voorsien sodat inwoners by die gemeenskapsaal kon water kook. Inwoners kon ook by die kombuis van 'n kerk van gas gebruik maak om kos warm te maak en water te kook.
Teen 12 Februarie het Eskom die munisipaliteit laat weet dat toerusting om die kraglyn te herstel, in Beaufort-Wes afgelaai is en dat werk teen Vrydag 13 Februarie sou begin. Daar is voorsien dat die kragtoevoer binne twee dae herstel sou wees.
Die modderige toestand van die grond en die rots waardeur geboor moes word het die proses egter vertraag. Intussen het die munisipaliteit 'n tweede kragopwekker by die gemeenskapsaal afgelaai en gasbottels daar en by die kerk hervul.
Die burgemeester en die munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee, het die terrein besoek en moes inwoners die teleurstellende nuus bring dat dit ten minste nog 'n week sou wees voordat kragtoevoer herstel sou wees.
Eskom-spanne het in uiters moeilike omstandighede gewerk en kragtoevoer is Sondagaand, 22 Februarie, aangeskakel. Die krag het egter onmiddellik weer afgegaan as gevolg van 'n afsonderlike fout op die lyn. Die fout is Maandagoggend opgespoor en herstel.
Jaquet het in 'n boodskap aan die inwoners haar dank teenoor Eskom se span uitgespreek en inwoners geloof vir die wyse waarop hulle die probleem hanteer het.
"Ons opregte dank aan die Klaarstroom-gemeenskap vir u geduld en veerkragtigheid gedurende hierdie uiters uitdagende tyd."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’