OUDTSHOORN NUUS - Jy weet nou al van die KKNK se bekroonde Teksmark wat jaarliks in die Baxter-teater in Kaapstad gebeur, maar vanjaar kom dié projek huis toe, met die heel eerste Teksmark Oudtshoorn wat Saterdag 29 Mei op die KKNK se tuisdorp in die Klein-Karoo plaasvind. En die beste van alles?
Inwoners van die omgewing kan gratis kom kyk wat hier op die verhoog gaan gebeur.
Vir die eerste keer kan aspirant-skrywers van Oudtshoorn en omstreke hul voorstelle vir verhoogtekste kom voorlê. Maar dis nie net nuwe stemme nie – ou bekendes soos Ricardo Arendse, draaiboekskrywer en boorling van die dorp, bring ook ’n teks, met die plaaslike ster Marlo Minnaar van Suidooster, Sara se geheim en 7de Laan wat Ricardo se teks sal voorlees. Die regie sal deur die akteur en regisseur Lee-Ann van Rooi gedoen word.
Die doel van Teksmark is eenvoudig: Dis ’n soektog na nuwe talent wat by toekomstige feeste hul werk op die planke kan sien lewe kry op KKNK-verhoë.
Die aanbieders van die heel eerste Teksmark Oudtshoorn is die akteur en skrywer Ilse Oppelt van Fishy Fêshuns- en Klein Karoo-faam, en Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK.
Wat kan jy verwag? Sewe uittreksels van splinternuwe tekste (deur Hannes Visser, Jopie Coetzee, Leach van der Westhuizen, Ludwig Siwa, Theo Witbooi, Tiffany Saterdaght en Veruschka Cobus) wat as leesteater aangebied word. En op die koop toe ’n uittreksel van Ricardo se Die halwe huis – ’n spesiale voorsmakie van dié produksie wat in die toekoms by die KKNK opgevoer sal word.
Aanbieder, Neil Coppen
Die sewe skrywers is gekies ná ’n skryfwerkwinkel wat in April deur die bekroonde dramaturg en regisseur Neil Coppen aangebied is, maar enigeen van Oudtshoorn en die Tuinroete kon ’n voorstel instuur.
Teksmark Oudtshoorn begin om 16:00 en Covid-19-protokol sal deurgaans gevolg word. Sitplek in die Burgersentrum word beperk tot 50% van die kapasiteit. Bespreek dus so gou as wat jy kan by Shandré Harris:
- telefonies by 044 203 8600,
- stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337, of
- stuur ’n e-pos na shandre@kunste.org.za.
Die voorlesings word aangebied in samewerking met nagraadse toegepaste teaterstudente van Stellenbosh Universiteit se Dramadepartement onder leiding van Amelda Brand.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'