OUDTSHOORN NUUS "Die KKNK staan gereed vir 'n feestelike mylpaalviering wanneer ons die naweek van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April drie dekades van kunste, kultuur en kreatiwiteit in Oudtshoorn vier én onthou."
So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, wat vanjaar vir die 30ste keer in die Klein-Karoo aangebied word.
Theart sê die span beplan 'n heerlike partytjie vir besoekers, met 'n feesprogram van meer as 110 teaterproduksies in uiteenlopende genres met musiek, drama, komedie, dans en vele meer.
Ingesluit op die teaterprogram is verskeie debuutproduksies, met van gevestigde gunstelinge en ervare kunstenaars op die verhoog, tot opwindende nuwe stemme, wat werklik iets vir elke feesganger se smaak en belangstelling bied.
"Bykomend kan musiek-liefhebbers uitsien na 'n omvangryke musiekreeks in die Feesmark, met twee musiekverhoë waar meer as 120 sangers en musikante, drie kore, 'n simfonieorkes en verskeie ander verrassing te sien is.
"Spesiale aandkonserte, die skouspelagtige Voluit Openingskonsert (28 Maart 20:00), Karoo Pops (29 Maart 20:00) en Kaktus (2 April vanaf 17:00) wat rockers van alle ouderdomme laat saamkuier, voeg ekstra glans tot die Feesmark-ervaring."
Theart sê verder dat die KKNK 'n uitgebreide visuele kunsprogram, met onder andere 'n uitstalling deur al die vorige feeskunstenaars (PLEK), insiggewende gespreksreekse en Klein-Karoo- en Leefstyl-ervarings vir feesgangers wat ook meer as uitvoerende kunste wil beleef, insluit.
"Daar wag ook hope vermaak op ons jonger feesgangers, met 'n ryk verskeidenheid kinder- en jeugaktiwiteite in onder andere die Feesmark se Klein KKNK-teater, wat die fees as 'n gesinsbestemming anker.
"Dit benewens 'n spesiale landbou-uitstalling, landbou-gesprekke en honderde stalletjies met kunsvlyt en smulfeeskos. Selfs as finansies knyp, is gratis vermaak volop. Op die verhoog van die RSG en ATKV-Kuierkol is daar 'n propvol program van vroegoggend tot laataand, met regstreekse uitsendings op RSG.
By die kykNET-leefarea in Baron van Reedestraat word storievertellings en gespreksreekse ingesluit, waaronder teatergesprekke met van die teaterikone en -vervaardigers by die fees."
"Daar is absoluut iets vir elkeen by vanjaar se 30ste KKNK. Ons nooi almal hartlik uit en sien daarna uit om voluit saam met almal fees te vier!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’