OUDTSHOORN NUUS - Oor minder as 'n maand, op 22 April, vertrek die Suid-Kaap kinder- en jeugkoor op hul toer na Europa.
Die kinderkoor, wat sedert 1996 bestaan, het al talle oorsese toere aangepak, maar vanjaar is die eerste toer vir die Suid-Kaap-jeugkoor wat vir ouer kinders gestig is.
Die twee kore is reeds sedert verlede jaar hard aan die werk om die toergeld wat bykans R40 000 per koorlid beloop, in te samel. Koorlede kom van Oudtshoorn, George en Mosselbaai en staan onder leiding van Jan Erik Swart.
Die twee kore is deel van die South Cape Music Academy wat deur 'n diensverskaffer die oorsese toer reël. Die kore se stemafrigter is Retha van Zyl, opvoeder by Langenhoven Gimnasium.
Tussen 22 April en 6 Mei tree die kore in Duitsland, Nederland en België op. Die hoogtepunt van die toer is die kore se deelname aan die 74ste Europees Muziek Festival voor de Jeugd in Pelt, België.
Met 'n vorige berig in Oudtshoorn Courant het Van Zyl gesê die kore se deelname is nog meer besonders aangesien dit die enigste kore uit Afrika is wat aan die jeugmusiekfees in België deelneem.
Spesiale geleentheid
Om die vlug- en vervoerkoste, akkommodasie, versekering, etes en alles wat daarmee gepaardgaan vir 15 volwassenes (sewe kooramptenare en agt ouers) en 50 koorlede te dek, is 'n uitdaging. Behalwe vir koorlede se eie inisiatiewe om geld in te samel reël die musiekakademie ook verskeie geleenthede vir fondsinsameling.Een van die geleenthede is 'n gulde geleentheid vir Oudtshoorniete om op 10 April die twee kore op die verhoog te ervaar.
Hulle tree om 18:30 by Laerskool Wesbank saam met die bekende en gewilde Michael Lindt op. Aangesien dit een van die kore se laaste optredes is voordat hulle op die toer verrek, beloof dit om 'n baie spesiale musiekervaring te wees. Kaartjies vir die uitvoering beloop slegs R100 per persoon.
Skakel 083 390 5643 of 060 413 2023 vir navrae.
Indien enigiemand meer inligting oor die toer wil bekom en die fondsinsameling wil ondersteun kan hulle Jan Erik Swart by 084 645 9320 of Retha van Zyl by 082 894 4111 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’