OUDTSHOORN NUUS - Twee voorvalle van dieremishandeling is die afgelope week by Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) aangemeld.
Volgens Colleen Smith, stigter van Odin, is hierdie slegs twee van talle voorvalle wat die organisasie daagliks hanteer.
Beide voorvalle het in GG-Kamp, Oudtshoorn, plaasgevind.
In die eerste voorval is 'n hondjie, Tinkie, deur 'n kind met kookwater gegooi en het ernstig verbrand. Gelukkig kon Tinkie met die hulp van Odin en die Kango-dierekliniek vinnig die nodige mediese behandeling ontvang. Sy word tans deur 'n Odin-vrywilliger versorg.
In 'n tweede, skokkende geval is klein hondjies van kinders af weggeneem nadat een van die honde deur 'n kind met 'n krieketkolf doodgeslaan is.
Die ander drie hondjies het gelukkig oorleef en ontvang nou die nodige sorg by die veearts.
Odin het hulle Maandag by die veearts gehad.
Odin het nog nie klagtes oor die voorvalle ingedien nie, maar dit word beplan.
Smith sê die organisasie is tans ongeveer 15 klagtes agter, omdat hulle so besig is met die daaglikse hantering van misbruik en verwaarlosing dat daar nie tyd is om by 'n aanklagkantoor te sit en wag vir 'n saaknommer nie. Omdat kinders by sommige van die voorvalle betrokke is, is dit ook 'n sensitiewe saak.
"Ons moet versigtig wees wanneer ons 'n klagte ondersoek, want ons kan self aangerand word. Baie mense besef nie wat daar buite gebeur nie. Ons is geskok dat kinders sulke dinge aan klein hondjies doen. Hierdie week alleen het ons reeds 1 403 km na verskeie klagtes toe gery. Sonder dr. Reinette du Plooy en haar span by Kango-dierekliniek sou ons nie geweet het hoe om te help nie, hulle wys ons nooit weg en ondersteun ons ongelooflik met elke dier wat ons bring," sê Smith.
Tans sit Odin met 'n groot veeartsrekening vir Tinkie se behandeling.
Inwoners wat moontlik wil bydra, kan die organisasie kontak vir meer besonderhede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’