OUDTSHOORN NUUS - Die program vir die 2025 Prins Albert-leesfees, wat van 29 tot 31 Augustus plaasvind, is afgehandel en kaartjieverkope begin op 18 Julie.
Die gewilde leesfees bied vanjaar weer ’n propvol program vir boeke- en kunsliefhebbers, met gesprekke, boekbekendstellings en unieke aanbiedinge wat in die hartjie van die Karoo plaasvind.
Kaartjies vir individuele gesprekke kos slegs R70 elk, terwyl ’n spesiale feeskaartjie teen R450 toegang tot al agt gespreksgeleenthede bied.
Die fees word soos in die verlede in die ikoniese Showroom Theatre in Prins Albert se hoofstraat aangebied. Vanjaar se program sluit ook drie gratis aanbiedings op Sondag 31 Augustus in, wat veral gemeenskapslede en feesgangers sal bederf.
Die dag begin vroeg met die unieke Poetry at Sunrise wat in die buitelug by die Kritikom-koppie plaasvind. Bekende digters, Hannes Visser en Tom Dreyer, open die sessie, waarna ander plaaslike digters gaan optree.
Daarna volg twee gratis boekgesprekke in die Showroom, waar plaaslike skrywers hul werk sal bespreek.
Die feesopeningsfunksie vind Vrydagaand plaas en is slegs vir genooide gaste. Daarna volg die eerste publieke programitem: ’n huldeblyk aan die geliefde skrywer Annelie Botes, waar haar man, Chris, bekend as 'Die Gryse', sal optree.
Saterdagprogram
• 09:00 Andrew Wilson met sy boek The Fourth Boy
• 10:15 - 11:00: Martin Steyn met Donkerwater
• 11:30 - 12:15: Tom Dreyer met Nou in infrarooi
• 12:45 - 13:30: Erla Diderichs met Nonsaimeisies
• 14:00 - 14:45: Alex Hamilton oor sy boek Arting and the Subsequent Shenanigans of a Serial Collector
• 15:15 - 16:00: De Wet Bischoff met sy debuutroman Kubermoorde
• 16:30 - 17:15: Sidney Gilroy met sy misdaadriller Roulette
Die fees sluit Sondagoggend af met ’n heerlike middagete by die Swartberg Hotel, geïnspireer deur resepte uit Cooking with Doc deur dr. André Hattingh. Kaartjies vir hierdie spesiale ete kos R250 en is nie by die algemene feeskaartjie ingesluit nie - dit moet vooraf bespreek word.
Kaartjies is vanaf 18 Julie beskikbaar by Reinie by 073 281 8891, by die biblioteek in Prins Albert of by die deur tydens die fees.
Die feeskaartjie (R450) en etekaartjie (R250) moet vooraf bespreek word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’