OUDTSHOORN NUUS - 'n 19-jarige man, Marlen Hufke, het gister in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn, na hy na bewering Woensdag 'n sekerheidswag en 'n karwag met 'n mes gesteek het.
Volgens die sekerheidswag het Hufke na bewering die Checkers-perseel waar die vragmotors parkeer betree.
"Ek het vir hom gesê hy hoort nie hier nie en toe begin hy my tart. Die karwag, wat in Hoogstraat werk, het my kom help omdat hy gesien het ek sukkel met die mannetjie. Die kind het 'n mes uitgeruk en my op my duim raak gesteek en toe klap die karwag die kind. Hy het toe die karwag op die arm gesteek."
Volgens die sekerheidswag het hulle Hufke in Hoogstraat in gejaag en hy het die sekerheidswag en die karwag met die mes bly dreig.
"Die karwag het 'n klip opgetel om na die kind te gooi, omdat hy ons met die mes wou steek, maar toe gooi hy per ongeluk die venster van 'n winkel in die Seppie Greeff-gebou stukkend."
Munisipale wetstoepassers, wat toevallig in die omtrek was, het die situasie ontlont en die polisie geskakel.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê daar word twee klagtes van aanranding teen Hufke ondersoek sowel as 'n klag van opsetlike saakbeskadiging teen die karwag wat die winkel se venster stukkend gegooi het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'