OUDTSHOORN NUUS - Hy sal sy broer onthou vir sy geloof, karakter, vreesloosheid, geregtigheid en liefde vir sy beroep, die onderwys.
So het dr. Clifford van Wyk tydens die begrafnisdiens van sy broer, Jan (61), die onderwyser, filosoof, digter, skrywer en storieverteller van formaat, in die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk gesê.
"Jan was nooit 'n uitspattige mens nie en 'n man wat positief gelewe en in matigheid geglo het. Hy was 'n trotse familiemens en jy kon dit sien in hoe hy ons familiereünies gereël het."
Volgens van Wyk het sy broer nie net op hoop gelewe nie, maar ook gegee.
"My broer het geglo dat 'n mens op die positiewe moet fokus sodat jou lewe betekenis kan hê. Daarom sê ek vandag dankie vir 'n positiewe vol lewe wat ons saam met hom kon hê," het Van Wyk sy huldeblyk afgesluit."
'n Broerskind, Jerica Linden, het in haar huldeblyk, en namens al die neefs en niggies wat onder Van Wyk se hand by die Bridgton Senior Sekondêr (BSS) deurgekom het, Van Wyk as 'n beskermengel en geliefde oom beskryf.
"Almal by BSS het geweet wie Meester van Wyk is. Hy het nie nonsens gevat nie en as 'Mr Miaghi', die vierkant by die skool met 'n ysterhand regeer."
Clarissa, dogter van Van Wyk, het in haar huldeblyk aan haar pa gesê dat sy hom verskriklik sal mis vir sy liefde, ondersteuning, wyse woorde en flou grappies.
Ds. André Boesak het die Van Wyk-familie na aanleiding van 1 Konings 18:30 getroos met klem op die vyf woorde " Kom staan hier by My".
"Dit is die boodskap wat die Here vandag vir Jan se bedroefde kinders gee," het Boesak gesê.
"Moenie op die mens staatmaak nie. Gaan staan by die Here."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'