OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Studente Biddag vir die eindeksamen wat jaarliks deur EDENfm in die United Congregational Church aangebied word, is op Sondag 13 Oktober deur meer as 1 000 leerders van verskeie laer- en hoërskole in Oudtshoorn bygewoon.
Daar was ongeveer 300 matrikulante wat saam die Here vertrou vir die eindeksamens.
Die hoofstudente van Bridgton Sekondêr, Hoërskool Môrester en Hoërskool Protea het onder andere vir die jeug, die toekoms, die dorp en die eindeksamens gebede gedoen. Micayla Botha, hoofstudent van die Aurial Kollege het 'n toespraak gemaak waarin sy ‘n spesiale woord van dank en waardering aan alle opvoeders uitgespreek het. Sy het gesê dat opvoeders die ekstra myl stap om leerders te help om hulle toekoms te bou.
Die leerders is deur dr. Thea Smith, fisioterapeut en kliniese sielkundige gemotiveer om hul fokus op die studies te hou en nou eers alle afleidings agterweë te skuif. Die leerders van De Villiers Primêr, Bergsig Primêr, Dassie Voorskoolse Sentrum en Bongolethu Primêr het die gehoor met pragtige sang, danse en voorstellings vergas.
Pastoor Franklin Booysen van Beat Ministries in Dysselsdorp het 'n kort en kragtige boodskap van bemoediging gebring en leerders aangemoedig om hulle geloof in God te plaas en die moontlike te doen, God sal dan die onmoontlike doen.
Biskop Arrol Booysen en sy vrou, Aletta, mede- organiseerders van die diens het 'n spesiale gebed vir matrikulante gedoen waarna die skoolhoofde en opvoeders by die diens al die matariekleerders ‘n handdruk en koringkorrel (Bybelvers) gegee het.
EDENfm het die United Congregational Church in Bridgton spesiaal bedank wat alreeds vir meer as 30 jaar gasheer van die jaarlikse studente biddag vir die eindeksamens in die vierde kwartaal is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’