LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie het Maandag twee persone in hegtenis geneem na 'n groep gemeenskapslede voor die hof byeengekom het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagtes op aanklag van openbare geweld, verhindering van polisie om pligte uit te voer en intimidasie in hegtenis geneem.
"Daar was 'n optog voor die munisipaliteit waar die lede van die gemeenskap hul ontevredenheid oor misdaad in Ladismith en dienslewering deur die munisipaliteit wou oordra. Die mense het egter oproerig geraak en een van die mense het aan die stasiebevelvoerder gepluk. Die polisie se openbare orde-eenheid is ingeroep om die skare uitmekaar te jaag en 'n donderbuis is tussen die mense ingegooi," het Pojie verduidelik.
Die twee persone wat gearresteer is is Patrick Hendricks en Jan Cornelius. Hulle het reeds in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hendricks en Cornelius moet weer op 26 April in die hof verskyn.
Ten spyte daarvan dat lede van die groep plakkate geswaai het en in Icosa-klere 'n Icosa-banier gehad het, het Bradley Bernadus, nasionale organiseerder van Icosa, aan die Oudtshoorn Courant gesê die optredes was nie 'n optog nie en dit het nie onder Icosa se vaandel plaasgevind nie.
"Lede van die gemeenskap het verlede Vrydag vreedsaam eers voor die polisiestasie en toe voor die munisipaliteit vergader. Die mense is ontevrede met die toename van misdaad in Ladismith en wou die munisipaliteit oor dienslewering praat.
"Hulle het memorandums aan die stasiebevelvoerder en die munisipale bestuurder oorhandig. Die munisipale bestuurder wou egter nie met die gemeenskap in gesprek tree nie en het net omgedraai en geloop."
Volgens hom was daar Maandag weer 'n groep mense wat voor die munisipaliteit gestaan het.
"Hulle wou met die munisipale bestuurder oor hul hoë rekeninge praat en oor skuld wat afgeskryf moet word. Daar was ook persone wat by die munisipaliteit gewerk het wat in 2015 afgedank is, maar nog nie hul verlofgeld ontvang het nie. Patrick was een van daardie persone."
Volgens Bernadus was die polisie ontevrede omdat die gemeenskapslede glo verhoed het dat mense by die munisipale gebou kon ingaan.
"Dit is onwaar. Die voertuig met die klankstelsel op het in die oprit van die munisipaliteit gestaan, maar enige persoon het vrye toegang tot die gebou gehad."
Volgens hom is dit ook onwaar dat Hendricks aan die bevelvoerder gestamp het.
"Die bevelvoerder het aan Patrick gestamp en Patrick het vir hom gevra hoekom hy dit doen, want niemand hier is oproerig nie."
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'