OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van veral Oudtshoorn-Noord sal verheug wees om te verneem dat herstelwerk aan die reservoir aan die bopunt van Victoriastraat naby die gevangenisterrein afgehandel is.
Die herstelwerk was noodsaaklik nadat die reservoir wat reeds dekades oud is, begin lek het.
Inwoners het verlede jaar gereeld foto's en videos gedeel van water wat by die reservoir uitlek en op daardie stadium het die munisipaliteit aangedui dat die herstelwerk deur kundiges gedoen moet word.
Sommige woonbuurte het die afgelope aantal maande gereeld wateronderbrekings ervaar terwyl die herstelwerk plaasgevind het.
Tydens die herstelwerk is water direk vanuit die pyplyn van die Raubenheimerdam aan dele soos Oudtshoorn-Noord verskaf. Die onderbrekings het dikwels voorgekom omdat die pyplyn nie genoeg water tydens spitstye kon voorsien nie.
In 'n verklaring wat Dinsdag deur die munisipaliteit uitgereik is, vra die munisipaliteit om verskoning vir die ongerief en bedank inwoners wat deur die herstelwerk geraak is, vir hulle geduld.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'