OUDTSHOORN NUUS - Verskeie gemeenskapslede het onlangs kapsie gemaak teen die Oudtshoorn-munisipaliteit se beoogde verwydering van die bushokkie by die Oudtshoorn-hospitaal in Parkweg.
Volgens die munisipale kennisgewing wat in 9 Mei 2024 se uitgawe van Oudtshoorn Courant verskyn, is dié bushokkie se verwydering in lyn met seksie 152 (1) (d) van die konstitusie om 'n veilige en gesonde omgewing te bevorder.
Die gemeenskapslede wat gekant is teen die verwydering van die bushokkie se argument is dat die hospitaal se bushokkie baie voordelig is vir persone of pasiënte wat ontslaan word en dan wag vir 'n geleentheid na hul wonings toe.
Gevan Juthe, een van die inwoners wat ongelukkig is oor die afbreek van die hokkies, het gesê dat die bushokkie in Parkweg minder probleme as die in Bridgton veroorsaak.
Die bushokkie in Parkweg. Foto:Wyndham Ewerts "Dit is absoluut verregaande dat die munisipaliteit tot hierdie slotsom gekom het om die bushokkie sommer net te verwyder. Dit maak geen sin nie, ek daag almal uit om bietjie te gaan kyk hoeveel persone elke dag van die bushokkie gebruik maak vir die doel waarvoor dit opgerig is.
"Dit is wel so dat die hokkies in 'n haglike toestand is en dat daar nou en dan mense slaap, maar dit is meer die uitsondering. Die teenvraag is hoekom het die munisipaliteit nog nooit eers waarskuwingsborde of iets opgerig om oortreders te waarsku nie. Waar is die owerhede om dit te monitor? Dit help nie mens gooi die baba met die water uit in hierdie geval nie, want die voordele weeg meer as die enkele nadele."
Oudtshoorn-munisipaliteit antwoord
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het in 'n verklaring gesê dat daar klagtes van die publiek ontvang is dat die bushokkie by die Oudtshoorn-hospitaal misbruik word.
"Hierdie klagtes is amptelik by die munisipaliteit ingedien. Indien daar soortgelyke gevalle op ander plekke en bushokkies is, moet dit skriftelik deurgegee word aan die wyksraadslid of wykskomiteelid vir aandag aan die munisipale bestuurder se kantoor," lui die verklaring.
Bushokkies in Bridgton
Menigte gemeenskapslede in Bridgton is egter gekant teen bushokkies in woonbuurte en wil weer graag hê dat dit verwyder moet word, veral die hokkies in Toekomsrus (in die duik), die hokkie naby Bridgton-swembad en die hokkie net bokant Coronation Memorial-ouetehuis.
Shaznay Arendse het aan Oudtshoorn Courant vertel van haar nare ervaring nadat sy dit verlede week op sosiale media bekendgemaak het. Haar inskrywing op Facebook het 'n groot debat ontketen vir die gevare wat bushokkies in woonbuurte inhou.
"My suster se kind is onlangs omtrent 05:00 die oggend deur vier mans en twee honde gejaag toe hy op pad werk toe was. My kollega se suster is ook al aangeval omdat die bendes in die bushokkies wegkruip en so kans kry om jou of te roof of seer te maak.
"Bedags word daar dagga, okkapyp en wyn in die hokkies gedrink. Sommige gebruik dit selfs vir seks. Baie mense is nou bang om daai pad werk toe te loop as gevolg van die hokkies. Ek dink ek praat vir almal as ek vra dat die bushokkies summier verwyder word. Die mense wat taxi ry gebruik in elk geval nie hokkies nie en wag vir die taxi op ander plekke omdat hulle weet wat in daai bushokkies aangaan," het Arendse gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’