Elretha van Wyk was saam met haar vriend Andries Joon en hul twee kinders Mateo Joon (7) en Anré Joon (1), in die voertuig toe dit teen die afgrond afgerol het. Net Elretha en Anré het die ongeluk oorleef.
Elretha se suster Donita van Wyk (33), 'n vriendin Jessica Horsband (22) wat ses maande swanger was en Elrico Philander (32) is ook in die ongeluk dood.
Andries was 'n polisielid verbonde aan Ladismith-polisie. Mateo het aan die begin van die jaar as gr.1-leerder by Calitzdorp Primêr begin.
Die ongeluk het Vrydagaand net na middernag op 'n skerp draai 'n paar kilometer van Ronnie's Sex Shop plaasgevind.
'n Familielid, Cathleen Arendse, vertel van die nagmerrie-aand wat die oorlewendes moes deurmaak.
"Elretha het gesê dat Andries bestuur het. Hy het volgens haar die normale spoed gery, maar die voertuig wat van voor gekom het, het nie sy hoofligte verdoof nie en Andries het beheer oor die kar verloor. Die kar is teen die krans af en het omtrent 20 m ver geval. Klein Anré het op Donita se skoot gesit en moes saam met haar uit die kar geval het. Almal is dood behalwe Elretha en Anré. Elretha sê sy kon hoor hoe roep en skree Anré na haar, maar sy kon nie sien waar hy lê nie en het gevolglik uit die wrak gekruip tot bo teen die pad om hulp te soek. Die lig was al die volgende oggend oor hulle toe iemand op die wrak afkom. Dit was omtrent net na 09:00," vertel sy.
Met die Oudtshoorn Courant se besoek aan Arends was Anré in haar sorg. Hy het 'n paar skraapmerke aan sy bene en 'n bloukol agter op sy rug.
"Elretha het haar nekwerwel en rug seergemaak en sy het ook haar skouer en van haar ribbes gebreek. Anré is nie by die hospitaal behandel nie. Ek het hom die volgende dag hospitaal toe geneem vir plate en die dokter sê hy gaan fine wees hy het net kneusplekke op sy lyf. Elreha het Maandagaand 'n terugslag gehad en is weer na die George-hospitaal se intensie-wesorgeenheid oorgeplaas."
Arends sê Elretha is by haar volle bewussyn en kan presies verduidelik wat gebeur het. Teen saktyd was sy nog in die George Hospitaal.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek die Barrydale-polisie 'n klag van strafbare manslag.
Hy sê dat die voorval tussen Vrydagaand en Saterdagoggend so ongeveer 25 km buite Barrydale gebeur het. Voorlopige inligting dui daarop dat die bestuurder van die Opel Kadet waarin die oorledenes gereis het, beheer by 'n skerp draai verloor het en die voertuig toe die pad verlaat het. Toe Ladismith-polisie omstreeks 09:20 Saterdag-oggend op die toneel arriveer, nadat hulle telefonies in kennis gestel is, het hulle die oorledenes op die toneel aangetref. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek."
Pojie sê die stasiebevelvoerder van Ladismith en sy lede betreur die voorval en betuig hul medelye en simpatie met die familie van die oorledenes en wens hulle baie sterkte toe.
Die Oudtshoorn Courant het Dinsdag spesiaal die ongelukstoneel besoek nadat verskeie mense aangedui het dat daar al 'n hele reeks noodlottige ongelukke op dieselfde plek plaasgevind het. Op die toneel is 'n klomp kruisies ter nagedagtenis aan die mense wat al daar verongeluk het en 'n wrak wat getuig van een van die ongelukke lê steeds tussen die rotse aan die onderkant van die rotsagtige afgrond.
Aangesien daar, behalwe vir een verkeersteken wat 'n skerp draai aandui, geen bykomende veiligheidsmaatreëls soos padrelings is nie en gereelde padgebruikers en die polisie hul kommer oor die aantal ongelukke op die draai uitspreek het die Oudtshoorn Courant foto's van die plek en besonderhede van die ongeluk aan die Wes-Kaapse minister van vervoer, Robin Carlisle, gestuur. Hy word gevra om ondersoek in te stel na die aard en omvang van noodlottige ongelukke op die gedeelte van die gewilde R62.

Anré Joon op die skoot van sy tannie Cathleen Arendse, en sy ma Elretha van Wyk was die enigste oorlewendes van die gru-ongeluk. Anré is in Cathleen se sorg terwyl sy ma in die hospitaal aansterk. Foto's verskaf.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'