Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Vir meer as tien jaar verander die Meals on Wheels Extreme Cycle for Hunger kilometers in deernis.
Hierdie fietstoer waar 1 500 km gery is, het op 25 Februarie in Alberton weggespring en op 6 Maart in Kaapstad klaargemaak.
Die groep fietsryers, tesame met Meals on Wheels se vragmotor het op Woensdag 4 Maart in Oudtshoorn by die Dassie Voorskoolse Sentrum aangedoen.
In gesprek met Gerswin Naidoo van Meals on Wheels kon hul met trots die skool se hele wenslys volledig nakom en aan die skoolhoof, Shirley Wagenaar, oorhandig.
Dit het buiten kos ook skryfbehoeftes, komberse en elektroniese goedere ingesluit.
Volgens Wagenaar is sy, die skoolbestuur, ouers en kinders ongelooflik dankbaar vir die ruimhartige skenking.
Met die vertrek uit Oudtshoorn het die fietsryers die 13,4 km lange klim van die Huisrivierpas, ook bekend as die Kuilrivierpas, aangepak. Die pas kronkel langs die R62 tussen Ladismith en Calitzdorp en bevat 39 draaie, hoeke en kronkels. Skerp draaie en steil hellings vereis onwrikbare konsentrasie, terwyl die dramatiese Klein Karoo-landskap maklik ’n mens se aandag kan aftrek. Om die klim te oorwin, was net soveel ’n geestelike as ’n fisieke uitdaging.
Volgens Naidoo is vanjaar se fietstoer ’n betekenisvolle viering van ’n dekade se impak.
“Te oordeel aan die vasberandenheid op die pad, en die glimlagte wat by elke stop wag, lê daar nog baie kilometers oor vir die projek.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’