OUDTSHOORN NUUS - Die Tuiroete-distriksmunisipaliteit (GRDM), het na die erge oorstromings wat tussen 8 April en 11 April, en van 2 Junie tot 6 Junie vanjaar in die Tuinroete plaasgevind het, die Wes-Kaapse Provinsiale Rampbestuursentrum genader om hulle te ondersteun in hul versoek om spesifiek die Oudtshoorn munisipale area as 'n plaaslike rampgebied te verklaar.
Luidens 'n verklaring wat deur die GRDM uitgereik is, steun die rampbestuursentrum die versoek en is die versoek na die nasionale rampbestuursentrum gestuur vir finale besluitneming.
"Die Tuinroete-distrik het langdurige en swaar reën en 'n afvloei van water vanaf aangrensende distrikte ervaar, wat gelei het tot oorstromings. Verskeie paaie moes gesluit word, en in die Oudtshoorn-omgewing het die Koos Raubenheimer-, Kammanassie- en Stompdriftdam oorgeloop, wat tot die oorstroming van die Olifantsrivier bygedra het. Die Stompdriftdam het vir die eerste keer in die afgelope nege jaar oorgeloop en 'n hoogtepunt van meer as 136% in kapasiteit bereik. Die Gamkapoortdam het ook oorgeloop, wat die reeds kritieke situasie vererger het. Dit het groot skade aan beide stedelike en landelike infrastruktuur tot gevolg gehad," lui die verklaring.
Skade wat vir die Oudtshoorn-munisipaliteit aangemeld is, is meer as R100 miljoen, landbouverwante skade word op R182 miljoen geraam en skade aan distrikspaaie en infrastruktuur sal na raming R200 miljoen oorskry.
Gert van Niekerk, burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het, luidens die verklaring, die gesag om 'n plaaslike ramptoestand te ondersteun of te verklaar indien dit regverdig word deur die Wet op Rampbestuur, Wet 57 van 2002, soos gewysig.
“Indien dit 'n rampgebied verklaar word, is dit moontlik om bykomende hulpbronne en fondse te bekom om te help met die herstel, herbou en verbetering van infrastruktuur wat beskadig is ná ’n rampspoedige gebeurtenis.”
Die proses om 'n plaaslike ramp te verklaar behels:
- 'n Besluit waartoe die rade van beide die plaaslike- en distriksmunisipaliteit ingestem het;
- 'n Versoek van die munisipale rampbestuursentrum aan die Provinsiale Rampbestuursentrum;
- 'n Provinsiale kabinetsbesluit wat die versoek aanbeveel, al dan nie;
- Bevestiging van die Nasionale Rampbestuursentrum deur 'n klassifikasieproses, gevolg deur publikasie in die provinsiale koerant.
Die GRDM het in die verlede die verklaring van plaaslike rampe vir die 2010-droogte, 2006 sowel as die 2022-vloede en die stormvloede van 2023 suksesvol gekoördineer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’