CALITZDORP NUUS - ’n Groep geoloë besoek middel Maart die Calitzdorp- en Oudtshoorn-omgewing in ’n soektog na moontlike dinosourus-voetspore en selfs tande wat na raming tussen 90 en 100 miljoen jaar gelede in die streek kon voorkom het.
Jean Malan, ’n bekende geoloog, het die versoek gerig dat inwoners en grondeienaars hul oë moet oophou vir enige moontlike vondste of blootgestelde rotslae wat ondersoek kan word.
Volgens hom is die fokus spesifiek op die sogenaamde Kirkwood-formasie, ’n geologiese rotslaag wat in dele van die Suid- en Oos-Kaap voorkom. In die Oudtshoorn-omgewing kom die formasie in die omgewing van die Olifantsrivier, Calitzdorp en die Oudtshoorn-vallei voor.
Wat is die Kirkwood-formasie?
Die Kirkwood-formasie is ’n fossielryke geologiese eenheid uit die vroeë Kryttydperk, ongeveer 145 tot 130 miljoen jaar gelede. Dit vorm deel van die Uitenhage Group in die suidelike Kaap.
Die formasie bestaan hoofsaaklik uit gevlekte moddersteen, sandsteen en konglomeraat (’n rots wat uit afgeronde klippies en gruis saamgesement is). Hierdie gesteentes is oorspronklik neergelê in antieke rivier- en meeromgewings, waar sand, slik en klippies oor tyd opgehoop en later verhard het. Met verloop van miljoene jare het hierdie sagte sedimente verhard tot sandsteen, siltsteen en skalie. Dit is juis in sulke omgewings waar dinosourusse geleef en beweeg het en waar hul spore soms in sagte modder agtergebly het.
Wanneer dinosourusse deur sagte klei of modder geloop het, het hul voetspore holtes gevorm. Hierdie holtes is later met sand gevul en het mettertyd versteen. Vandag kan sulke spore soms as fossiele in dwarssnitte of op rotsoppervlaktes gesien word.
Wat word gesoek?
Malan sê hulle is op soek na dwarssnitte of “cuttings” in paaie, spoorsnitte en kranse en blootgestelde rotsoppervlaktes in damme en rivierlope
Die fokus is op sedimentêre gesteentes in die vallei self en nie op die omliggende berggesteentes nie.
As voorbeeld van hoe sulke fossiele kan lyk, verwys Malan na spore wat by die Robberg-natuurreservaat aangeteken is, waar voetspore in versteende sandsteen sigbaar is.
Enige persoon wat moontlike spore, tande of ander fossiele opmerk, word versoek om dit nie te versteur nie, maar eerder die besonderhede en ligging aan te meld.
Inligting kan deurgegee word aan Jean Malan by 082 560 6836.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’