OUDTSHOORN NUUS - Drie jong verdagtes, wat van diefstal vanuit 'n voertuig aangekla word, het verlede week in die Oudtshoorn-distrikshof verskyn.
Hulle aansoek om borgtog is geweier.
Fabian Conradie (22), David Aychen (24) en Elton John (23) word daarvan aangekla dat hulle die aand van 7 Oktober 'n motor buite die kuierplek, Steppaz Lounge, se agterruit gebreek en 'n rugsak met 'n rekenaar daarin gesteel het.
Videomateriaal het gelei tot die spoedige inhegtenisneming van die drie.
Die staatsaanklaer, Diego Edwards, sowel as die ondersoekbeampte sers. Sherone Flemmer, het borgtog teengestaan omdat die drie nie eerste oortreders is nie en 'n geneigdheid toon om in te breek.
Landdros Nthombizandile Maseti het borgtog geweier en die saak vir verdere ondersoek tot 8 November uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’